Nie jou gewone ‘model’ nie
Sy is ook nie die tipiese populêre meisie met baie vriendinne nie, want sy het haar eie unieke belangstellings.
’N TIPIESE model is sy beslis nie en tog lyk dit of daar vir haar ’n blink loopbaan as model voorlê.
Die REKORD het onlangs ’n jong dame raakgeloop en met haar begin gesels.
Haar naam is Cherise van Wyk en sy is ’n leerling van Hoërskool Dinamika, asook ’n vooruitstrewende model.
Cherise (15) het onlangs met Graad Nege begin en is ’n lid van Figures Model Finesse Alberton vir die afgelope jaar. Sy is alreeds verlede jaar gekroon as ’n deputante finalis by die Figures Nasionale Student van die Jaar semi-finale kompetisie en het daarna, in Desember, aan die Figures Nasionale Student van die Jaar deelgeneem by die Roodepoort Jeug Teater.

Sjoe!
Sy verduidelik hoe sy begin het om modelwerk te doen.
“Dit was danksy waarskynlikheid dat ’n Figures-agent my eendag by die skool raakgesien het.
“Sy het my ma gebel en vir haar gesê dat sy dink ek baie potensiaal het om ’n model te kan wees.
“Dit was wonderlik.
“Nie lank daarna nie het ek by Figures begin.”
Cherise sê sy vereenselwig haarself nie regtig met die tipiese “model-meisie” nie.
Sy is ook nie die tipiese populêre meisie met baie vriendinne nie, want sy het haar eie unieke belangstellings en hou daarvan om haar eie ding te doen.
Sy laat haarself nie sommer verander deur die nuutste tendense nie.

“Ek ken nie regtig die wêreld se beroemde modelle nie, en ek gee ook nie regtig oor hulle om nie, om eerlik te wees,” sê Cherise met ’n glimlag.
“Ek is geïnspireer deur Goku van Dragon Ball Z, die TV-program.
“Hy is letterlik die beste ooit.
“Hy het die beste fighting skills van enigeiemand, maar hy is ook bitterlief vir sy familie en vriende.
“Ek wens ek was soos Goku, of selfs Lara Croft van die Tomb Raider Playstation-speletjies.”
Haar grootste droom in terme van modelwerk is eenvoudig – sy hoop om genoeg geld te maak sodat sy ’n gemaklike lewe kan lei.
Cherise is ’n groot diereliefhebber en sy hoop veral om eendag bydraes te kan maak tot die redding van bedreigde spesies.
“My grootste droom in die lewe is om al die Labradors en goue-retrievers in die wêreld by my te kan hê,” lag Cherise. “Ek is vreeslik lief vir honde en sommer alle diere, veral as hulle so oulik en simpel is.
“Hulle is tog altyd só onskuldig en liefdevol.”
Cherise deel graag haar lewensleuse met die lesers: I’d rather be a brainless beast than a heartless monster. – San Goku.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



