Local newsNews

Kevin Olckers (10) is lewende voorbeeld van iemand wat nog ’n kans gekry het

Sy pa Jurie Olckers speel saam baie bekendes.

BAIE mense glo dat goeie goed, soos wonderwerke, net in boeke of films gebeur – daar waar mens by die dood omdraai en ’n tweede kans gegun word.

Kevin Olckers (10) is lewende voorbeeld van iemand wat nog ’n kans gekry het.

Hy het in 2009 byna verdrink en toe sy pa, Jurie, by hom kom was daar geen pols.

“Ek het CPR en alles op hom gedoen, maar daar was niks lewe nie. Volgens dokters was hy klinies dood. Hulle het hom toe bygekry maar die dokter het vir ons gesê dat ons onself vir die ergste moet voorberei want Kevin sal dalk nie weer ’n normale lewe kan leef nie,” het Jurie vertel.

Kevin het toe net twee geword en volgens sy ma, Melanie, wou hy blykbaar ’n blokkie uit die swembad uithaal.

“Ons weet tot vandag toe nie hoe hy die veiligheidshek na die swembad oopgekry het nie,” het sy gesê.

Wonder bo wonder

Na ’n paar dae het Jurie en Melanie weer, soos die dae vantevore, by die hospitaal aangekom en wat net as ’n wonderwerk beskryf kan word, het Kevin op en af op sy bed gespring.

“Hy was genees en daar was niks fout met hom nie,” het die ouers gesê. “Kevin het vir ons gesê dat liewe Jesus hom gehelp het.”

Later het die geestelike film, Heaven is for real, uitgekom en die gesin het dit gekyk. Aan die einde van die film is daar ’n skets van die Here wat deur ’n meisie geteken was. Toe Kevin dit sien toe sê hy vir sy ouers dat dit dié man is wat hom gehelp het.

“As mense sy storie ken glo ek hulle sal sien dat die lewe ’n paar ongelooflike draaie met hom gemaak het,” het sy ma gesê.

MUSIKANT: Kevin Olckers met Rassie Erasmus se konsertina.

Soos pa, soos seun

Vandag volg Kevin in sy pa, ’n bekende musikant wat al saam groot kunstenaars opgetree het, se voetspore.

Kevin het van ’n jong ouderdom af begin dromme en konsertina speel en hy bring ook sy heel eerste boeremusiek album in 2018 uit. Dit sal tussen 12 en 14 snitte van die ou legendes se musiek bevat. Wat dit meer spesiaal maak is dat die album in Julie, wat ook Kevin se verjaardagmaand is, gaan uitkom.

“Ek is baie opgewonde en ek hoop mense hou so baie van die snitte soos wat ek daarvan hou,” het Kevin gesê.

Volgens hom is sy doelwit om beter as oom Rassie Erasmus (Konsertina Koning) te speel.

Kevin het al saam met Dozi, Blackie Swart, Pieter Kapp en vele ander opgetree. Hy speel onder andere ook in die Springbok Boereorkes saam met sy pa.

Kevin vertal dat sy eerste keer op die verhoog baie stresvol was maar dat hy net meer gemakliker op die verhoog geraak het.

Kevin die musikant

Sy ouers beskryf hom as ’n baie talentvolle seun wat ’n natuurlike aanvoeling vir sy musiek het.

“Hy verbaas ons daagliks want hy sal byvoorbeeld vir ons ’n liedjie speel dan is dit iets uit die 80s of 90s,” het hulle gesê.

Kevin beskryf musiek as iets wat uit sy hart uit borrel. Jurie inspireer Kevin die meeste omdat hy Kevin geleer het om altyd nederig te wees.

“Ook oom Johan van Vuuren want hy help my baie om beter musiek te maak.”

Kevin se gunsteling liedjie tans is 7 Years van Lukas Graham.

Hy is nou besig om sy musiek teorie te doen en skryf amper sy Graad 2 in dromme. Kevin is ook by ’n dromskool waar daar 16 orkeste is waarvan hy in die tienerorkes speel.

Verder gaan hy ook aan sy skool se kunswedstryd deelneem.

“Ek gaan drie solos, een duet, een groep en dan instrumente doen.”

Oor dit en dat

Kevin is in Pretoria gebore en die gesin bly al langer as sewe jaar in Alberton. Die jong opkomende musikant is ’n leerder van Laerskool Orion en hy vaar uistekend op akademiese-, sport- en kunsgebiede. Hy is die agtste man vir die o-11 rugbyspan wat deur Manie Scholtz afgerig word en sing ook in die skool se koor.

Kevin is die jongste van drie kinders en tussen sy ouer broer en suster is hy al een wat mal is oor musiek.

In sy vrye tyd is hy mal daaroor om videospeletjies te speel.

“Moet nooit die kort pad vat nie” is sy lewensmotto.

TE MOOI: Hier is Rassie Erasmus se konsertina waarmee hy al baie mense vermaak het.

Iets wat mense dalk nie van hom weet nie is dat hy Rassie Erasmus se konsertina gekry het.

“Ek kan nie in woorde sê watse groot eer dit vir my is om dit te kon gekry het nie,” het Kevin gesê.

Mense kan gerus Kevin op sy Facebook-blad volg. Meer inliging oor sy album sal volg.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button