Ouma Marie voltooi haar 50ste parkrun
Op 81 staan sy vir niks terug nie - nie eers haar 50ste Parkrun nie.
MARIE van Lingen (81) het onlangs haar 50ste parkrun by Rietvlei voltooi. Sy het gewys dat om oud te word nie ’n verskoning is om op te hou oefen nie.
Marie het eers later in haar lewe begin stap. Sy het in haar 50s begin staproetes doen saam met ’n voetslaanklub en sodoende haar fiksheid hoog gehou. Soos wat sy ouer geword het, het sy egter besluit om op te hou met die staptoge wat orals oor die Vrystaat en Gauteng gespan het.
“As jy ouer word dan voel die mense wat saam jou stap hulle moet na jou omsien,” vertel Marie oor hoekom sy opgehou het.
In April 2017 het Marie egter ’n nuwe manier gevind om aan haar staplus uiting te gee toe haar kleindogter haar in kennis gestel het van die parkrun by Rietvlei. Van daardie punt verder stap Marie gereeld saam met lede van haar familie, wie vir haar baie belangrik is. Marie se naby-familie het haar op 2 Junie verras deur almal vir haar 50ste wedloop met balonne op te daag.
“Dit het so baie vir my beteken dat hulle almal daar was om my te ondersteun,” sê Marie.
Marie stap nie net stadig by die parkruns nie.
“As jy gaan stadig stap kan jy net sowel om jou eie blok stap,” sê Marie. Sy het haar laaste 10 wedlope almal onder 48 minute klaar gemaak.
“Dis snaaks om te sien hoe mense reageer as ek saamstap. Daar was een jong man wat gesê het solank hy voor die witkop tannie klaarmaak is hy gelukkig.”
Marie hou haarself nie net besig met stap nie, maar gee ook nog les in wiskunde, wetenskap en biologie by Alpha en Omega Christian Academy.
“As mense vir my vra hoekom ek nog ’n onderwyser is, is my antwoord dieselfde as hoekom ek nog hardloop: Want ek kan!” sê Marie.
Marie hoop om nog vele Saterdae haar staptogte voort te sit. Haar advies vir ander mense wat wil stap is die volgende: “Stap net! Of dit om die blok is of ’n verder afstand, doen dit net. Moenie vir die wêreld wag nie. As jy so iets uitstel doen jy dit nooit nie.”

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



