OM wakker te word in die donker met vuurwarm flamme en rook wat jou versmoor om jou bed en in jou huis, is nie die manier hoe jy ooit wil wakker word nie.
So het die Hartzer-gesin, wat op ’n plot net buite Alberton op die R550 Eikenhof pad bly, op 12 Junie om 12.30vm wakker geword. ’n Vuur het in hulle dogter, Marlizé (9), se kamer onstaan wat haar met tweede graadse brandwonde op haar voet gelaat het.
“As haar voet nie gebrand het nie, sou ons nie wakker geword het nie. Sy het na ons kamer gehardloop en ons wakker gemaak,” het Henno Hartzer gesê.

Hy het ook vertel hoe Marlizé haar ma met ’n vuis wakker geslaan het omdat sy nie wakker geword het nie.
“Ek het my oë oopgemaak en my dogter se angs in haar stem gehoor en die rook het my asem weggeslaan,” het Marinda vertel.
Toe die gesin almal wakker was het Henno dadelik probeer om die deure oop te kry sodat hy sy gesin uit die brandende huis kan kry.
“Ek onthou dat die krag nog aan was toe ons wakker word, maar toe ek die huissleutels gryp toe gaan die krag af. Ons het ’n veiligheidshek in ons gang en gewoonlik sukkel mens om die hek oop te kry, maar daai aand het ek met die genade van Bo die regte sleutel die eerste keer gevat en die hek sonder ’n gesukkel oopgesluit,” het Henno vertel.
Terwyl hy die huis oopgesluit het, het Marinda, nadat haar dogter vir haar gesê het dat sy gaan doodgaan omdat sy nie asem kry nie, Marlizé en haar seun, Ruan, na hulle badkamer gehaas sodat hulle by ‘n venster hul koppe kon uitdruk om vars lug te kry.

Vlamme verswelg huis
Nadat hulle almal uit die huis gekom het, het die vuur erger geraak en binne ‘n uur was hulle huise in vlamme toegevou.
“Ek was in my nagklere en my voete was gesny omdat ek oor gebreekte glas moes hardloop, het ek pad afgehardloop opsoek na hulp,” het sy gesê.
Marinda het na ’n buurman gehardloop om sy selfoon te gebruik.
“Ek kon nie eers van my familie of vriende se nommers onthou nie. Ek het my ma gebel, maar haar foon het net gelui. Toe onthou ek my tannie wat in Randburg bly se huis telefoonnommer en sy het dadelik opgetel. Ek het haar gevra om in die telefoonboek die brandweerstasie van Alberton se nommer te kry en te bel. Ek is toe terug huis toe en toe ek by die hek inkom het ek geweerskote gehoor.
Henno het ’n vertrek in die huis waar hy sy eie geweerpatrone maak en die vuur het van die gelaaide patrone laat afgaan.
“Dit was regtig baie traumaties. Ek meen dit was ’n wintersoggend en ons het nie regtig iets gegryp toe ons gevlug het nie. Dit was bitter koud,” het Marinda gesê.
Henno het ook vertel hoe hy met die tuinslang water in die kamer met die koeëls gespuit het.
Hulp van almal
Meyerton se brandweer het uiteindelik opgedaag want Alberton s’n het verdwaal.
“Kallie van die brandweer in Meyerton het my dogter se voet behandel en ook ons op suurstofmasjiene gesit. My tannie van Randburg het ook deurgekom met komberse en warm klere,” het sy vertel.
Die gesin bly op een van Randwater se eiendomme en volgens ondersoeke het die brand weens ’n elektriese probleem in die dak ontstaan.

“Geen man kan die gevoel beskryf om voor jou huis, dit wat jy jare lank opgebou het, te staan en toekyk hoe dit alles afbrand nie,” het Henno gesê.
Die gesin het geen versekering vir hul huisinhoud gehad nie en Henno is werkloos nadat hy drie keer sy werk verloor het weens besighede wat toemaak of hom net nie meer nodig gehad het nie.
Hulle twee kinders is by Laerskool Orion en volgens Marinda kon hulle nie vir ’n beter skool gevra het nie.
“Die skool se personeel en ouers het dadelik ingespring en ons gehelp met dit wat ons nodig gehad het.”
Baie mense het na die gesin uitgereik, selfs Alberton se Helpende Hand-tak het hulle besoek.
So kan jy help
In Mei 2018 het die gesin Slagpen Slaghuis oopgemaak waar hulle vleis verwerk en verpak vir ’n inkomste. Hulle het vir ’n maand lank in ’n karavaan op hulle erf gebly en onlangs na die verbrande huis teruggetrek. Twee vertrekke in die huis het nie gebrand nie en dit is waar hulle tans woon. Die huis is steeds soos hy was na die brand, maar hulle maak gebruik van die kombuis en’n kamer wat al vier deel.
“Ons is eintlik ongelooflik dankbaar vir almal wat ons so goed ondersteun het. Dit is so wonderlik om te sien hoe ander net ingespring het en gehelp het,” het Marinda gesê.
Randwater het aan die gesin gesê dat hulle so gou as moontlik met die herstelwerk sal begin.
Hoewel hulle huis herstel gaan word het hulle steeds ’n paar goed nodig soos gas vir hulle kampstofie, hangkaste, hondekos (hulle het vier honde), kombuisware, toiletware en skoonmaakmiddels.
“Ons wil ook vra vir speelgoed soos teddiebere en karretjies. My dogtertjie het baie gehad, maar alles het gebrand. Ek voel as grootmens dat dit ’n luukse is, maar tog, as ’n kind is dit hulle bietjie plesier en dit is vir my so hartseer, want ons probeer fokus op ander dinge soos ons skuld en ander benodighede,” het sy gesê.
Mense is ook welkom om ’n geldelike bydrae te maak sodat die gesin goed soos onderklere kan koop en onder andere ook kos. Geld kan inbetaal word na MC Hartzer, FNB spaarrekening, rekeningnommer 62652353899 en ander donasies kan by Laerskool Orion afgelewer word.
Mense kan ook Marinda skakel as hulle nie dit by die skool kan gaan aflaai nie. Haar nommer is 071 413 5120.

Lees Ook:
Home for the mentally ill needs help
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



