Local newsNews

Alberton groet ’n groot man

Flip Rosslee, stigter van Rosslee Bouers, is op die ouderdom van 86 jaar oorlede.

FLIP Rosslee, moontlik Alberton se langswerkende entrepreneur, is op 5 Oktober, op die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Hy het tot twee maande voor sy dood, nieteenstaande ernstige gesondheidsprobleme, nog elke oggend aangemeld op die bouperseel om ’n wakende oog oor verrigtinge te hou.

Flip het as 14-jarige seun in Alberton aangekom waar hy onder andere by die destydse Laerskool Paul Kruger skoolgegaan het. Nadat hy homself as messelaar bekwaam het aan die ambagskool in Potchefstroom, het hy teruggekeer Alberton toe om sy vakleerlingskap te voltooi.

As jongman het hy vir Alberton Rugbyklub uitgedraf as haker en later sy lewensmaat Christie deur die Jeugvereniging van die Hervormde Kerk in Tweedelaan, Alberton Noord, ontmoet.

INDIENSOPLEIDING: Flip Rosslee het in November 2017 nog mense gewys hoe om te messel.

Rosslee Bouers het op 12 Desember 1957 tot stand gekom – twee dae voor Flip en Christie op 14 Desember getroud is.

Vir Flip was die verskaffing van tuistes vir jonk en oud ’n roeping tot aan die einde van sy lewe. Hy het deur die jare diep spore in Alberton getrap as onder andere voorsitter van sy kerk se jeugvereniging, leier van die Hervormde Kerk Alberton-Wes se Sondagskool, voorsitter van die Alberton Munsipale Gholfklub en Albertonse Sakekamer.

Hy het vir etlike jare op die Alberton Waardasieraad gedien asook verskeie toekennings verwerf van die destydse Natal Bougenootskap waarvan hy deel was. As jongman het Flip en sy broer Fanie, wat vir baie jare saam met hom gewerk het, tot 3 000 stene per dag elk ingemessel.

Flip en sy gesin het einde 1983 Vanderbijlpark toe verhuis, hoewel hy steeds elke dag deurgery het na Alberton terwyl sy bouprojekte nog in Alberton aktief was.

TOTSIENS: ’n Tipiese foto van Flip Rosslee wat mymer op sy stoep … in ’n hemp wat ’n paar dekades oud is.

Flip was bekend vir sy filosofieë wat hy graag gedeel het. In ’n brief in 1989 skryf hy die volgende: “’n Mens kry baie helde. Oorlogshelde, geloofshelde, party mense word helde net omdat hulle te bang is om weg te hardloop. Maar daar is mense wat ek ’n baie hoë agting voor het en dit is hulle wat vir elke dag hulle kant bring onder alle omstandighede. Om elke dag jou klere aan te trek om jou dagtaak te verrig vir 30 tot 40 jaar is ’n groter heldedaad as om jou klere eenmaal uit te trek om jou boetie toe te maak dat hy nie doodgaan van die koue nie. Om te bly leef is ’n groter heldedaad as om dood te gaan.”

Op 12 Desember 2017 het Flip 60 jaar in besigheid herdenk en op 14 Desember het hy en Christie hulle huwelik van 60 jaar gevier.

Die huldigingsdiens vir Flip Rosslee is op 12 Oktober vanuit die Nederduits Hervormde Kerk Alberton-Wes gehou; ’n kerk wat hy met baie toewyding self beplan en gebou het en vir baie jare hier op die kerkraad gedien het.

GESINSTYD: ’n Foto van Flip Rosslee (tweede van regs) saam met sy kinders Marié Kriek, Johan Rosslee, Flip Rosslee, Christél Rosslee-Venter en Diederick Rosslee.

Flip se gesin waardeer elke boodskap van bemoediging en seënwense. Hy laat sy vrou, Christie, kinders, Diederick Rosslee, Marié Kriek, Johan Rosslee, Flip Rosslee en Christél Rosslee-Venter asook hulle gades, 20 kleinkinders en vier agterkleinkinders, agter om sy erfenis hier verder te laat voortleef.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button