’n Nuwe predikant en groot fees by Seester
Ds Petrus Dreyer word aan die gemeenskap voorgestel. Kom kuier saam by hul opkomende Seester Fees.
DIE Brackenhurst Seester Gemeente stel graag hul nuwe predikant, Ds Petrus Dreyer, aan die gemeenskap voor en dan nooi hulle ook die gemeenskap uit om by hul Seester Fees op 3 November saam te kuier.
Ontmoet Ds Petrus Dreyer
Petrus (33) is vanaf 3 Maart 2017 predikant by die Brackenhurst Seester Gemeente. Hy woon in Randhart saam met sy vrou van nege jaar, Willemien, en hul twee kinders, Hannah en Wim.
Sy familie is sy grootste passie. Hulle is die spil waarom sy lewe draai.
“As my familie nie gelukkig is nie, is dit asof alles uitmekaar val,” het hy gesê.
Petrus se pa, Wim, wat ook ’n predikant was, was sy grootste inspirasie. Uit Wim se vier seuns is twee van hulle predikante.
Petrus het in 2011, na sy studies, as predikant in Pretoria begin werk. Voordat hy by die Brackenhurst Seester Gemeente aangesluit het, het hy vir ses jaar as predikant in Nelspruit gewerk. Hy het besluit om met sy familie Gauteng toe te trek en dit het tot sy aanstelling as predikant by Seester gelei.
“My grootste mylpaal as predikant is om wie ek is in Christus uit te leef,” het hy gesê.
“Dit gaan oor God, gemeenskap en mense, nie geld nie. ’n Ware predikant se passie is mense.”

’n Boodskap
Petrus se boodskap aan lesers en die Seester-gemeenskap: “Ek hoop om ’n positiewe impak op die gemeenskap te maak en dat mense my sal onthou as ’n persoon met integriteit; iemand wie se woorde en dade met mekaar ooreenstem.
“‘Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe, engele of magte, teenwoordige of toekomstige dinge, kragte of hoogte of diepte, of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie – die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8:38-39)’,” het hy afgesluit.
Namens die gemeenskap word Petrus verwelkom by die Brackenhurst Seester Gemeente – mag dit wonderlike en leersame tye vir almal inhou.
Kom baljaar by Seester Fees
Die wonderlike Seester Fees, wat op 2 en 3 November plaasvind, belowe pret vir oud en jonk.
2 November: ’n Cowboy en Indiaan geselligheidsaand gaan op die kerkgronde, hoek van Nasturtium en Eva strate, Brackenhurst, vanaf 6.30nm, gehou word.
Trek aan soos ’n cowboy of Indiaan en geniet ’n aand van kuier en lekker musiek. Dit sal R175 per persoon kos, maar kinders onder 12 kry gratis toegang. Daar sal ’n heerlike spitbraai wees. Bring jou eie drinkgoed.
Vir meer inligting, kontak vir Manie op 082 891 5484 of Susan op 082 654 6597.
3 November: ’n Mengelmoes van pret, aktiwiteite vir alle ouderdomme en stalletjies gaan Saterdag op die kerkgronde beskikbaar wees. Ingang is verniet. Kom eet lekker saam aan al die kos wat te koop gaan wees, soos worsrolle, pannekoek, kerrie en rys, vetkoek, poedings en nog baie meer. Koop ook vars vleis by die fees (of dit kan vooraf bestel word by Petrus op 082 453 8094), groente en vrugte.
Vir die kinders – dié kan heerlik baljaar tussen die kindervermaak, -musiek, speletjies, boeresport en springkastele wat beskikbaar sal wees. Die jonges kan ook deelneem in die “prinses en superheld”-kostuumkompetisie, waar die oorspronklikste kostuum ’n prys kan wen.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup



