Oud-rugbykaptein van Alberton vermoor
Na ’n geweldadige aanval in die kroeg in sy hotel is hy in die hospital oorlede. Berigte uit Frankryk beweer dat die aanvaller Barend verskeie kere oor die kop geslaan het toe Barend die situasie probeer ontlont het.
SKOKGOLWE het deur die sportwêreld getrek met die nuus dat oud-Alberton rugbykaptein, Barend Britz, op 63-jarige ouderdom in sy hotel in Perpignan, Frankryk, gedurende Desember 2018 vermoor is.
Na ’n geweldadige aanval in die kroeg in sy hotel is hy in die hospital oorlede. Berigte uit Frankryk beweer dat die aanvaller Barend verskeie kere oor die kop geslaan het toe Barend die situasie probeer ontlont het.
Wyle Barend het Alberton se eerstespan gedurende 1986 tot 1990 aangevoer in dieselfde tydperk wat hy ook vir Transvaal uitgedraf het. In hierdie tydsperiode was Alberton onder sy besielende leierskap ’n krag in Transvaalrugby en het sy span tradisioneel die semi-finaal van die Grootuitdaagbekerreeks gehaal.
Barend, wat ook voorheen Noord-Transvaal se Blou Bulle verteenwoordig het, het in die 90’s saam met sy gesin na Frankryk verhuis en klubrugby in Perpignan gespeel.
Op ’n ‘reis na gister’ deur die plaaslike koerante van daardie tydperk, duik Barend Britz se naam feitlik weekliks prominent in die rugbyverslae op. Die onmisbare rol wat hy as slot vir Alberton gespeel het, is hieruit glashelder.
In die oorsig van die 1988-seisoen, word sy rol pertinent uitgesonder. In die daaropvolgende 1989-seisoen, waar Albertonrugby voortdurend onder die top vier op die puntelys geboer het, skryf Johann van der Merwe in die Alberton RECORD se 13 Julie uitgawe in die verslag oor Alberton se roemryke sege van 26-15 oor sterk Diggers die volgende: “Barend Britz se blote teenwoordigheid asook sy besielende leiding het sy spanmaats aangespoor. Die feit dat hy ook ’n voorbeeld op die veld stel is vir sy spanlede meer rede om karakter te openbaar. Sy persoonlike volwassenheid op en af van die veld is vir die klub onmisbaar.”
Gevolglik is hy dan ook met die hoogste toekenning as eerstepanspeler van die jaar tydens die klub se prysuitdeling vir 1989 vereer.
In die voorsittersverslag vir die 1990-Albertonseisoen, word “Barend Britz en sy bende” uitgesonder vir gelukwense met die uitmuntende prestasie om weer die semi-finaal te haal. Onder Barend se spanmaats daardie jare was sy slotmaats Nelis Alberts en Gert van der Merwe, asook bekende provinsiale spelers soos Willie Steyn en Hamer Engelbrecht uit Albertonrugby se goue era.
Die diep spore wat Barend Britz in sy rugbyloopbaan getrap het kom na vore in Media 24-koerante se 31 Desember-uitgawe, waar hy uitgesonder word as een van die “ groot sportseders wat val in 2018”.
In dieselfde verslag word die naam genoem van Pruimpie Botha van Alberton Jukskeiklub en bestuurslid van die Alberton Sentrale Sportraad wat provinsiale kleure vir jukskei en rugby vir Griekwas verwerf het. Hy is gedurende Junie 2018 op 82-jarige ouderdom oorlede en die laaste eerbetoon aan hom was in Rawsonville in die Boland.
Manie Reyneke, pas uittredende voorsitter en tans president van Alberton Rugbyklub, onthou die nalatenskap van Barend Britz soos volg: “Hy was ’n baie goeie speler en leier hier in Alberton rugbygeledere en ook as verkeersbeampte waar hy vir die destydse Stadsraad van Alberton gewerk het. Hy was in Thokoza gestasioneer as hoof van verkeer daar net voor hy na Frankryk vertrek het. Hy was ’n goeie spanman en baie lojaal teenoor Albertonrugby gewees. Nog manne wat soos Barend ons verlaat het hierdie jaar was Tim van Wyk, wat ook slot vir Alberton gespeel het en alsydige sportman Dawie van Rensburg.”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup



