GALLERY: Gholf is Louvan (5) se passie
Louvan Becker (5) is ’n jong opkomende gholfspeler en sy passie vir gholf het op die ouderdom van een jaar begin.
LOUVAN Becker (5) is ’n jong opkomende gholfspeler en sy passie vir gholf het op die ouderdom van een jaar begin.
Sy pa, Lourens, wie graag gholf speel in sy vrye tyd het toe Louvan een geword het vir hom ’n plastiese gholfstelletjie gekoop. Vandaaraf is gholf al wat Louvan wil doen.
“Ons het gesien dat hy baie goeie balvaardighede het en besluit om vir hom ’n yster gholfstel te koop toe hy twee geword het,” het sy ma, Lechien, vertel.
Lourens het toe vir Louvan begin nette opsit by die huis, sodat hy kan gholf speel.
“Hy sal balle slaan tot na agt in die aande en dan is dit ’n gesmeek sodat hy net bietjie kan inkom. Sy antwoord dan aan my is ‘net nog een slaan mamma’,” het Lechien gesê.
Klein man met groot passie
Omdat Louvan nog so jonk is, word sy gholfstokke spesiaal vir hom gemaak en het hy selfs ’n klein gholfsak wat by sy lengte pas. Toe Louvan drie was het hy aan South Africa Kids Gholf deelgeneem, waar hy die jongste speler was. Hy het besonders goed gevaar, alhoewel hy teen ouer spelers gespeel het.
In 2017 toe hy vier jaar oud was, het hy weer aan dié kompetisie deelgeneem en goed gevaar, maar was die uitdaging steeds dat daar nie ander spelers van sy ouderdom was nie.
Hy het onlangs weer aan die SA Kids Golf by die Herons Bank Golf Course deelgeneem en tweede geëindig.
Volgens sy afrigter, Gavin Frazer, rig hy klein Louvan al vir drie jaar af en is Louvan een van sy gholfspelers wat die sport vreeslik geniet.
“Hy is altyd opgewonde voor ’n sessie en ’n mens kan sien dit is sy passie,” het Gavin gesê.
Lechien het ook genoem dat Louvan ’n professionale gholfspeler wil word as hy groot is en dat hulle selfs kyk na ’n skool wat op gholf fokus.
Meer oor Louvan
Louvan is op 25 Mei 2013 in die Garden City hospitaal gebore en woon saam met sy ouers in Alberton.
Dié kranige gholfspeler is die jongste in die huis en het ’n ouer sussie, Liah.
As hy nie buite gholfballe slaan nie, speel hy saam met Liah of hy swem.
“Hy is baie aktief en sal altyd besig wees,” het ma Lechien gesê.
Louvan is in Randhart Rakkers en sy grootste inspirasie in die lewe is sy pa.
“Louvan trek soos sy pa aan, hy jel sy hare soos sy pa sin en hy sal ook dinge wat sy pa sê of doen, na-aap. As hy soos iemand kon wees, sou dit definitief sy pa wees,” het Lechien gesê.
Louvan het ook ’n Facebook-blad, Louvan Becker, wat ondersteuners kan volg. Meeste van sy kompetisie-uitslae en dinge waarmee hy besig is, word op die blad geplaas.
GALLERY:
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup









