Sarie vier haar 103de verjaarsdag
Haar grootste geheim is dat daar nie ’n oggend of aand verbygaan wat sy nie kwaliteit gesigrome aansmeer nie.
DIE geliefde tannie Sarie Breytenbach van Albermarle het op 22 Maart haar 103de verjaarsdag gevier.
“Wat ’n eer is dit nie om so oud te word nie,” het Joey Jacobs, haar dogter gesê. Familie het op 21 Maart ’n klein samekoms vir Sarie met ’n verjaarsdagkoek, geskenke en ’n heerlike ete gehou.
103 jaar van geluk en liefde
Sarie is in 1916 op die plaas Taaibosbult, langs die Vaalrivier en sowat 25km vanaf Potchefstroom gebore. Sy was een van vyf kinders – twee broers en drie susters – en vandag is sy die enigste oorlewende van al haar broers, susters, niggies en nefies.
Sy is die trotse moeder van drie kinders, vier kleinkinders en vyf agter-kleinkinders. Toe sy jonger was, was sy ’n bedrywige dame wat haar kleinkinders met baie liefde help grootmaak het. Haar eerste kleinkind, Francois Breytenbach, is haar held en sy kan hom nie genoeg omhels en soen wanneer hy by haar kuier nie. Tans woon Sarie by haar dogter, Joey Jacobs, en sal nêrens anders wil wees nie. Joey pas haar ma sedert 1991 op en al kry sy nie regtig kans om vakansie te gaan hou nie, is sy dankbaar om so baie kwaliteit tyd saam met haar gryse moeder te kan spandeer. Deur die dag is Sarie rustig en ontspan sy in haar gunsteling sitkamerstoel. Ongelukkig kan sy nie meer as dit verrig nie omdat sy met haar balans sukkel, maar verder is sy nog perdfris en gesond.
“Die REKORD het in 2018 ’n berig oor my ma gedoen en ons is so geseënd om ’n jaar later weer oor haar iets te kan insit,” het Joey gesê.
Grootste geheim
“My ma het in haar jonger dae vir haar huis, haar familie en haar kerk hard gewerk. Sy was lief daarvoor om te hekel en brei en sy was baie kreatief. Sy kon baie teddiebere brei en die mooiste hekellappies uit haar kop uit ontwerp en skep.”
Joey sê sy glo die geheim tot haar ma se vol lewe is dat sy haar hele lewe lank omring is deur liefde en omgee. Sy is baie lief vir lag, selfs al is daar nie eers ’n rede nie. Sy is ook baie gelukkig om nooit ernstig siek te word nie. Haar grootste geheim is dat daar nie ’n oggend of aand verbygaan wat sy nie kwaliteit gesigrome aansmeer nie.
LEES OOK:
KYK: 106 jaar en voel nog geseënd en gesond
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup



