Ontmoet Marlene Gerber, Randhart se nuwe hoof
Marlene Gerber was verwelkom as hoof van Laerskool Randhart op 1 Augustus.
MARLENE Gerber, die nuwe hoof van Laerskool Randhart, wat haar eerste dag op 1 Augustus geniet het, is al 40 jaar lank in die onderwys. Sy het haar onderrig by Goudstad Onderwyskollege ontvang en later haar honeursgraad by Universiteit van Noord-Wes voltooi.
Sy het die eerste keer as onderwyseres klas gegee by Laerskool Generaal Chistiaan de Wet in Westdene.
Voor haar aanstelling as hoof van Laerskool Randhart het Marlene die uitvoerende hoof pos by Curro Thatchfield Gekombineerde Skool beklee.
Marlene beskryf hierdie as haar beste ervaring omdat sy daar was vir die eerste baksteen wat gelê is tot die skool se eerste matriekafskeid en eerste Graad 12 eksamen.

Marlene sê ook dat haar ervaring by dié skool haar blootgestel het aan ander mense se kultuur, iets wat sy innig dankbaar voor is en glad nie sou verruil het nie, ten spyte van die vêr ry om elke dag by die skool te kom.
Marlene bly al 37 jaar lank in Alberton. Saam met haar man Dalton het sy twee seuns en haar tyd saam met die mans in haar lewe het ’n voorliefde vir sport by haar wakker gemaak.
Marlene hou van sport beide om dit te geniet as ’n toeskouer en om aktief deel te neem.
Sy hoop om haar ekstra tyd wat sy nou het te benut om weer meer aktief te raak in sport. Marlene geniet ook die rustigheid van die natuur, en om aan te sit vir ’n ete wat sy nie self gemaak het is vir haar ’n groot bederf.
Marlene beskryf haar tyd by Curro as meer besigheid georiënteerd en sy sien veral uit daarna om weer die hartklop van ’n skool te kan beleef.

Sy sien uit na die interaksie met haar mense in haar taal en haar kultuur.
Marlene voel haar sterkste eienskap wat sy na die skool toe bring is dat sy ’n natuurlike leier is.
Sy beskryf dat sy die vermoë het om mense na haar toe te trek en te insprireer om dinge te doen.
Marlene sê haar loopbaan was redelik hindernisvry en dinge het verloop soos dit moet.
Sy sê wel dit is soms moeilik om as ’n sterk, vroulike leier haarself in manlike geselskap te laat geld, maar sy staan nie terug vir die wipballe van die lewe nie.



