FRANK Brümmer is ’n doodgewone Brackendowns inwoner wat het ’n vreemde passie in 2018 voltooi het.
Om ’n deur in sy motorhuis te versier het Frank Coca-Cola doppies gebruik.
Nie sommer net een of twee nie, maar met ’n totaal van 2 301 proppies het hy die deur van bo tot onder bedek.
“Dis omdat ek lief is vir rooi,” vertel Frank oor waar die idee om die doppies te gebruik vandaan kom.
“Ek was nog altyd ’n groot Farrari en Michael Schumacher ondersteuner en vandaar my liefde vir rooi. Die mense sê ek is rooi mal.”
Frank het die projek begin in Julie 2018 toe hy omtrent 100 doppies bymekaar gemaak het. Hy het toe sommer begin plak.
Baie vining het die projek begin vlam vat.
“Oral waar ek kom het ek doppies van bottels afgehaal,” sê Frank.
“My familie het ook naderhand vir my begin doppies gee.”
Deur die plakkery sê Frank het hy baie gom gebruik en ook iets onstellend ontdek. Halfpad deur die plakproses het hy besef dat Coca-Cola die grootte van die doppies verander het.
“Ek moes die doppies afskuur om hulle te laat pas.”
Teen Oktober 2018 was Frank se projek klaar.
Hy het 2 301 individuele doppies geplak en wou begin om op die koesyne ook te toe plak toe sy vrou halt geroep het en gesê het dit is nou tyd om te stop.
Frank hoop om eendag sy deur in te skryf vir ’n Guinness Wêreldrekord, want hy glo nie dat iemand anders al doppies op ’n deur geplak het nie.
Hy sê hy sal ook baie verras wees om te hoor of iemand anders dit gedoen het, dalk met Fanta doppies.
“Dan sal ek dalk teen die muur ook moet begin plak,” het Frank met ’n glimlag gesê.



