GALLERY: Alberton spog met finaliste in Sarie voorbladgesig kompetisie
Twee vroue van Alberton is in die Sarie Voorbladgesig top 10 en die Aberton Rekord het hulle ontmoet om hulle stories te hoor.
SARIE Voorbladgesig is nou in hulle negende jaar en het onlangs hulle top 10 finaliste in die Augustus uitgawe aangekondig.
Twee van die finaliste is vroue van Alberton en die RECORD het gaan kuier om meer oor dié twee se lewens te hoor.
Schané Venter
Schané Venter (27), ’n inwoner van Meyersdal, is in Alberton gebore en het hier grootgeword en is baie lief vir die suide van Johanneburg.
Sy werk sedert Junie vir die Mej Suid-Afrika organisasie in logistieke bestuur.
Sy het ’n BCom graad in bemarking by die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom studeer, en as gevolg van haar liefde vir mode en klere het sy ook ’n kursus in mode-ontwerp by hulle kreatiwiteitsentrum voltooi.
Die voetspore wat ons agter laat
Schané het besluit om by Sarie se Voorbladgesig kompetisie in te skryf nadat ’n vriend haar genomineer het.
Sy het nog altyd groot bewondering gehad vir die tydskrif en het besef haar droom om deel te neem in so ’n kompetisie was iets wat sy nie kon ignoreer nie.
“Die proses wat ek tot nou deurgemaak het laat my reeds soos ’n wenner voel,” het Schané gesê.
“Ek het soveel ongelooflike vrouens ontmoet, vroue wat toelaat dat die son oor ander skyn.”
Haar passie in die lewe is om saam met ander vrouens te werk en hulle te help om hulle drome te realiser en sy kry dit reg in die werk wat sy tans doen.
Schané self het nie ’n maklike lewe gehad as kind nie, en baie van dit wat met haar gebeur het, het haar forseer om vinnig volwasse te raak. Maar sy sien elke ontbering as ’n geleentheid om ’n oorwinnaar te word en om vir haar drome te veg.
“Mens moet kies om die positiewe in die lewe te sien en om dankbaar te wees vir elke seëning.
“’n Groot les wat ek geleer het is dat mense nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie, en ek probeer om dit altyd in gedagte te hou, maak nie saak met wie ek te doen het nie,” het Schané gesê.
Die ware heldinne
“Baie vroue dink hulle is nie sukses werd nie, maar vroue is eintlike die ware heldinne.
“Ons doen regtig die fisiese onmoontlike. Ons is veerkragtig en ons moet gevier word. As ’n vrou haar waarde besef sal sy berge kan versit.”
Schané glo elke vrou moet haar waarde besef, haarself aanvaar vir wie sy is en dat ons as vrouens mekaar moet opbou.
“Elkeen van ons het ’n storie om te vertel en wanneer ons saamstaan kan ons soveel meer vir mekaar beteken.”
Verder sê Schané dat skoonheid nie ’n vrou definieer nie.
“Vrouens van alle vorms, grotes en onvolmaakthede word regoor die wêreld gevier,” het sy bygevoeg.
“Skoonheid is nie wat ons sien aan die buitekant nie. Skoonheid gaan oor passie, vriendelikheid en goedhartigheid.”
Sy glo dat vrouens met mekaar moet assosieer en nie bang moet wees om oor die dinge te praat wat regtig saakmaak nie.
“Deur om ander te help neem ons die fokus van ons eie probleme af en sien ons raak dat ons iets vir iemand anders kan beteken al voel ons self op ons laagste.
“Om dankbaar te wees maak ’n wêreld se verskil en dit is baie keer die kleinste dinge in die lewe wat ons vir mekaar doen wat ons aan die gang hou.”
Leef met dankbaarheid
In haar vrye tyd bemark Schané mooi klere en bypassende juwele vir haar aanlynwinkeltjie.
Sy geniet dit om oor naweke allerhande markte te besoek en sy het onlangs begin tennis speel saam met haar verloofde.
“Ons is albei lief daarvoor om tyd saam in die winkels te spandeer en kwaliteittyd saam met ons vriende en families.”
Schané weet dat daar altyd uitdagings in die lewe sal wees, maar sy glo dat sy altyd sterker aan die ander kant sal uitkom.
“Ons het nodig om te groei en te leer en nie in die verlede vas te haak nie. Ja, daar is sekere goed waarvoor ons onself moet toelaat om oor hartseer te wees, maar die belangrikste ding is om weer op te staan en aan te gaan. Veral as vrouens moet ons mekaar koester.”
Vinishia Ras
Lisa Robertson, model, afrigter en eienaar van ACE Models het Vinishia (24) ’n paar maande gelede raakgesien by Starbucks en haar toe vir die kompetisie genomineer.
“Ek het nog nooit iets in my lewe gewen nie, en toe ek hoor ek is in die top 10 toe voel ek al klaar soos ’n wenner,” het Vinishia vertel.
Dit is die eerste keer dat Vinishia aan ’n skoonheidskompetisie deelneem en sy sê sy is ongelooflik geseënd, dankbaar en opgewonde.
“Dit is ’n geleentheid wat net een keer in ’n mens se lewe gebeur. Ons is almal so vertroetel en dit was wonderlik om soveel vriendelike, mooi en inspirerende vrouens te ontmoet, insluitende die ongelooflike Sarie span.”
Sy sê die ander deelnemers is nie net mooi aan die buitekant nie, maar ook aan die binnekant en dit is ’n voorreg om tyd saam met hulle te kan spandeer.
Vinishia glo dat alles vir ’n rede gebeur en alhoewel sy nog nie spesifieke planne het, sou sy wen nie, glo sy dat die ervaring vir haar nuwe deure sal oopmaak wat na opwindende dinge kan lei.
Die waarde van opregtheid
Vinishia is in Middelburg gebore en het in Alberton grootgeword.
Sy het somatologie en estetiese terapie in Centurion studeer en bly en werk tans in Pretoria.
Vinishia is ’n laserterapeut vir nege dermatoloë by LCM Vel en Laser Kliniek.
“Enige iets oor skoonheid en gesondheid, fisies en spiritueel, het my nogal altyd geinteresseer. Dit is my passie om meer te doen en meer te leer.”
Haar advies aan ander deelnemers en vroue wat in skoonheidskompetesies belangstel is, “Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie, en jy is baie mooier as wat jy dink.”
Vriendelikheid is ’n baie belangrike aspek vir Vinishia en haar hoofdoel in die lewe is om die Here se plan en wil te volg.
“Ek wil ’n seën wees vir ander met wie ek in kontak kom en hulle help om hulle beste self te wees.
“Verder wil ek dinge bereik wat buitgewoon is en elke geleentheid aangryp om ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak.”
GALLERY:








