Getroud in hul 70’s
Liefde kom nooit te laat vir enigeen nie, 'n paartjie trou nadat albei se vorige lewensmaats oorlede is.
NEW REDRUTH – Chris Delport en Joey Eksteen, inwoners van Silverkroon, het op 18 Januarie by Reading Country Club hul beloftes aan mekaar voorgelees.
Albei se lewensmaats is sowat ‘n jaar gelede oorlede en hulle het so met mekaar in verbinding getree. Die paartjie is nou al net meer as ‘n jaar saam, voor hulle besluit het om te trou.
Hulle was altwee eensaam en kom goed oor die weg, en het dus besluit om hul troudag saam met familie, vriende en vriendinne (ook van Silverkroon) te vier.
Herman Coetser van Alberton Lewensentrum, waarvan die meeste van die gaste ook kerklede is, het die seremonie behartig.
Chris het vier kinders en Joey het ses kinders, en albei het boonop kleinkinders en agterkleinkinders.
Herman Coetser het gesê, “Julle moet aan mekaar onderdanig wees en in pas met God se plan bly. Die doel van die huwelik is om te troos en lief te hê.”
Die saal was pragtig versier met blomme en verskillende kleure tafeldoeke oormekaar. Elke gas het ‘n boksie met sjokolade en lekkergoed ontvang waarop daar ook ‘n dankboodskap was. Na die seremonie het almal ‘n ete geniet.
Vriende en vriendinne van Silverkroon wens vir Chris en Joey Delport alle sterkte en alles van die beste toe op hulle pad vorentoe.



