Local newsNews

Alberton se tweede Ons Winkel maak sy deure oop

Die winkel omskep goedere wat geskenk word in kontant wat gebruik word om behoeftige studente te ondersteun.

ONS Winkel Alberton het op 6 September hul tweede skenkingswinkel in Alberton oopgemaak.

Die splinternuwe winkel kan op die hoek van Tweede Laan en Hendrik Potgieterstraat gevind word.

“’n Mens kan sien die Alberton-gemeenskap is een wat saamstaan en omgee vir mekaar,” sê Alet Robbenson, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels-inisiatief.

“Met hul ondersteuning bemagtig dit ons om nóg meer mense in nood by te staan. Te danke aan die oorweldigende ondersteuning uit die gemeenskap was ons genoodsaak om ’n bykomende perseel oop te maak sodat ons nóg meer mense kan help en só ook meer werksgeleenthede skep.”

Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word.

Van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware tot enigiets anders wat by huise of kantore in die pad staan.

Die winkels neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word.

Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik om dit te kan doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

“Ons sien baie daarna uit om aan te hou om ’n verskil in Alberton se gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” sê Frans Burger, een van die eienaars van beide Alberton Ons Winkels.

“Saam en in ’n japtrap maak ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap. Stap bloot net by een van die winkels in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige ware ontslae te raak en te weet dit gaan reg deur Helpende Hand se gevestigde strukture aangewend word om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.”

Vir meer inligting of om ’n skenking te maak kan jy gerus vir Frans op 072 690 2030 bel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button