Tobie Jooste kuier saam met Ligstad
Om die gemeenskap as vennote in hul werk te betrek en die nodige fondse te genereer, word ’n gesellige funksie deur Ligstad gereël

LIGSTAD wil die gemeenskap uitnooi om vir ’n wyle in te kom in die leefwêreld van Alberton-Noord.
Dit is ’n gemeenskap wat baie anders begin lyk het oor die laaste dekade.
“Ons wil saam met die breër gemeenskap van Alberton kyk na die armoede, sosiale nood en die bekende lewenstryd wat die inwoners beleef,” het Alida Jooste, maatskaplike werker gesê.
As nie-winsgewende organisasie in die hartjie van Alberton-Noord is Ligstad aktief besig om pro-aktief die gemeenskap te bedien en te bemagtig.
Vir die afgelope sewe jaar bring hulle lig en hoop in donker lewensomstandighede.
Ten einde die gemeenskap as vennote in hul werk te betrek en die nodige fondse te genereer, word ’n gesellige funksie gereël waar gemeenskapslede meer kan hoor van Ligstad se werksaamhede en kan sien hoe hulle kan bydra tot die uitleef van lig en hoop in Alberton-Noord.
Die funksie is getiteld Lumière en vind op 8 November om 6nm vir 6.30nm in die saal van die Alberton Aftree-oord, 45 Kritzingerweg, Florentia, plaas.
Ilse-Louise Herholdt en Tobi Jooste het geen bekendstelling in die vermaaklikheidsbedryf benodig nie en sal optree. Die kaartjies kos R250 per persoon en sluit ’n ete in.
Daar sal ook klein items opgeveil word gedurende die aand wat op ’n kontant- of EFT-basis hanteer sal word.
Vir besprekings kontak Peter Rossouw by peter@ligstad.co.za, 011 907 0517 of 079 693 3666.



