KYK: Baba Esmi vier Mieke-Dag saam met haar ouers
“Dit is ‘n wonderwerk dat Esmi nou by ons is in hierdie jaar wat die die laaste jaar van Mieke-Dag is.” - Michael Boucher
Sy is deur baie as die wonderbaba gedoop nadat sy prematuur gebore is en ’n volle 101 dae in die neonatalesaal moes deurbring.
Die RECORD het by klein Esmi Boucher gaan kuier om te hoor hoe dit met haar gaan.
Esmi Boucher is op 4 Junie uit Netcare Clinton Hospitaal se neonatalesaal ontslaan.
Sy is na slegs 25 weke van haar ma, Ester, se swangerskap gebore. Met haar geboorte het Esmi slegs 590g geweeg.
“Esmi is ongelooflik sterk,” het Michael Boucher, Esmi se pa, vertel . “Ons is baie gelukkig met haar groei.”
Volgens haar pa haal Esmi baie mylpale in haar ontwikkeling en sy begin al vaste kos eet.
Esmi weeg nou 4.13kg, byna agt keer haar oorspronklike gewig. “Sy bring vir ons baie geluk,” het Michael gesê, en dit is duidelik dat hy sy rol as pa in die gesin, wat hulle so lank voor gewag het, baie geniet.
“Ons waardeer ons tyd saam as gesin en om haar in die huis te hê.”
Iets wat Michael baie na aan die hart lê is dat Esmi begin lag het.
Michael vertel dat hulle na haar geboorte verras was deur al die geskenkies en bederfies wat hulle ontvang het.
“Mense het gehoor van Esmi se verhaal en allerhande goedjies gee wat vir ons baie spesiaal is.”
Na die artikel verskyn het sê Michael is daar mense wat hulle herken en graag wil uitvind hoe dit met Esmi gaan.
Mieke-Dag
Drie jaar voor Esmi se geboorte was die Boucher gesin se eerste kind, Mieke, gebore.
Mieke is nes haar sussie baie vroeg gebore en ongelukkig weens haar vroeë geboorte is sy oorlede.
“Dit was vir ons ongelooflik toe ons kerk hulle welsynsdag vir die volgende drie jaar Mieke-Dag genoem het ter nagedagtenis aan Mieke,” het Michael gesê.
Mieke-Dag vind plaas op 4 November. “Dit is ’n wonderwerk dat Esmi nou by ons is in hierdie jaar wat die die laaste jaar van Mieke-Dag is.”
Die Boucher gesin het tydens Esmi se lang verblyf in die neonatalesaal besef dat daar ’n tekort aan kombersies is.
“Hierdie jaar wil ons graag kombersies insamel om op Mieke-Dag vir die neonatalesaal te skenk.”
Die Bouchers versoek dat enigiemand wat wil help asseblief ’n ontvangskombersie en vlieskomberse sal skenk.
Hierdie kombersies kan by die Betel Lofprysingskerk, 66 Michelle Laan, Randhart, afgelaai word.
Vir meer inligting kan jy gerus Dirk Laufs skakel op 082 557 1867 of Patricia Laufs op 083 275 5063.
KYK:



