Local newsNews

Wolfram laat ’n leemte

Skool in rou oor die afsterwe van geliefde skakelbeampte.

Oudjoernalis van Beeld en die bekende ‘foto oom’ of ‘oom Facebook’ van Hoërskool Marais Viljoen High School, Wolfram Zwecker (62), is op 2 Desember aan breinkanker oorlede.

Glioblastoma, ’n aggresiewe tipe kanker, is einde September by Zwecker gediagnoseer.

In Oktober het hy ’n operasie ondergaan om ’n deel van die gewas op die brein te verwyder.

Die kanker was egter alreeds te ver gevorderd om bestraling of chemoterapie te ontvang.

Zwecker het vir 34 jaar by Beeld gewerk en het in 2016 afgetree. Hy het toe as skakelbeampte by Marais Viljoen begin werk.

Hy was bekend onder leerders, personeel en ouers.

“Dit is met groot hartseer dat Marais Viljoen moet afskeid neem van een van die grotes onder ons. Dit is ’n groot verlies vir die skool,” het Martie Heystek, hoof, gesê.

Zwecker was ook deel van die RECORD se familie aangesien hy altyd die skakel tussen die skool en die koerant was.

Sy professionaliteit, raad, sin vir humor, omgee en spesiale aanhalings gaan baie gemis word.

’n Verassingsdiens was vir hom op 5 Desember by die Lutherse Kerk in Piercylaan 75, Germiston, gehou.

In liefdevolle herinnering, Wolfram Zwecker. (Foto: Facebook)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hy laat sy vrou, Louna, en hul twee kinders, Daniella en Jürgen agter.

Vir Wolfram van die Marais Viljoen gemeenskap:

“Die verlies van Wolfram, die gemoedelike man met die groot snor en skerp humorsin, laat Marais Viljoen-harte leeg.

“Wolfram was nie iemand wie se betrokkenheid en insette by Marais Viljoen in enkele woorde opgesom kan word nie.

“Die ‘foto oom’ was altyd te siene by al die skool se aktiwiteite en funksies om al die aksie in ’n foto vas te vang.

“As jy hom gesoek het was hy altyd langs die veld met sy kamera in sy hand.

“Marais Viljoeners was so bederf met oom Wolfram, dat hulle self gaan stilstaan het vir ’n foto of twee die oomblik wat hulle hom sou gewaar. Dít natuurlik net om op die skool se sosiale media-platforms gesien te word.

“Wolfram het ’n onmisbare en vernuwende rol in Marais Viljoen se sosiale media gespeel.

“Op sy spesiale manier het hy alle nuus gedeel, sonder om enige aktiwiteit ooit uit te sluit.

“As personeel het almal uitgesien na sy motiverende gedagtes en aanhalings en natuurlik ook die spesiale gelukwensing wanneer jy verjaar.

“Te danke aan Wolfram was dit maklik vir almal om te weet wat by die skool aangaan.

“Ons gaan Wolfram oral by die skool en op die velde mis. Ons gaan sy liefde en omgee vir die skool mis, maar ons sal seker maak dat sy ‘legacy’ sal voortleef.”

Dit is waar Wolfram Zwecker meeste van die tyd was, langs die veld met sy kamera. (Foto: Bennie Henning)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Boodskappe op sosiale media:

• André Kruger: “RIP Wolfram Zwecker. Gaan jou geselsies, grappies, raad wat jy vir my gegee het en sommer alles mis langs die sportvelde waar ons fotos geneem het. Hartseer dag.”

• Gerrie Meiring: “Wolfie, my ou mater, die man wat nie baie gepraat het wanneer ons gekuier het nie. Ek het nooit omgeblaai sonder om jou rubriek eers te lees nie. My meegevoel aan jou vrou en kinders. RIP.”

• Anika van der Walt: “So jammer om van die hartseer nuus te hoor. Ek het jare met hom kontak gehad deur Willem Cruywagen en Orion skool se sportnuus en foto’s aan hom te stuur vir Beeld. My innige simpatie met sy afsterwe. Ek bid vir vertroosting aan sy familie en vriende. Ongelooflike raakvat joernalis. Wolfgang, soos ek hom genoem het, rus sag.”

• Harry van Staden: “Ek sukkel om dit te verwerk. Wolfram, jy was ons skakel met die skool. Jy was die hartklop van ons media. Jy was Mnr Marais Viljoen in soveel dimensies. Ons gaan jou soveel mis. Louna en gesin, ons bid vir julle.”

• Liddie Styger: “Ai, Wolfie! Met wie gaan ek nou gesels langs die veld agter die kameras?”

• Leonie Ellis: “Oom fotograaf, videograaf, Facebook, innige simpatie.”

• Tarina van Heerden: “Oom Facebook, soos ons kinders hom geken het, ons legend. Rus in vrede oom Facebook. So baie sterkte aan die Zwecker familie.”

• Maritza, Kobus van Nieuwenhuizen: “Baie, baie hartseer. Sterkte en mag God julle vertroos.”

• Breydon Pretorius: “Why does God send angles to earth and not allow them to stay here forever. I can’t believe you are no longer with us. You will always be in my heart. Rest in peace, my dear friend.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button