Manne deur weerlig raakgeslaan
Die familie hou egter nogsteeds Jakes in hulle gebede sodat hy ten volle kan herstel en ook sy 'survival' storie met ander kan deel.
Wat ’n gesellige mannebyeenkoms langs die Vaaldam moes wees, het vinnig in ’n ramp verander toe vier mans terselfdertyd deur weerlig raakgeslaan is.
Op 20 Desember het Johan Pretorius van Alberton saam met sy broer Andries Pretoruis, sy vriend Anthoni Botha, twee skoonseuns, Jakes Maritz en Pieter Jackson, en kleinseun Divan Pretorius op ’n manne-wegbreek langs die Vaaldam gegaan.
“Ons het daar aangekom, afgepak, tente opgeslaan en ons visstokke in die waters gegooi en begin visvang.
“Dit was vir my kleinseun ’n goeie dag want hy het omtrent 11 visse gevang. Die weer was lekker en ons het regtig heerlik gekuier en visgevang,” het Johan vertel.
Nare ondervinding
Die volgende dag het die manne weer visgevang en tyd langs die water spandeer.
Skielik het daar weer begin opsteek. “Anthoni het nog gesê hy ken die tipe weer en dat dit vinnig verby sal wees.
“Intussen het klein Divan in een van die motors gaan sit. Ek het gaan stort by die amblusieblok toe Andries, Anthoni, Jakes en Pieter aangehardloop kom om uit die hael te kom.
“Dié vier is toe met klere en al in die storte in om warm te kry. Ek het toe na my voertuig geloop om daar te sit tot die storm oor is,” het Johan gesê.

Die volgende oomblik het dit vir Johan gevoel of daar ’n flitsgranaat (flash grenade) by hom in die motor afgaan.
“Ek het net wit gesien en baie geruk.”
Toe Johan by sy motor se venster uitkyk het hy gesien hoe die ander manne vanuit die amblusieblok hardloop en rol en val.
“Klein Divan was nog in die voertuig en hy het net vir my gesê hoe hy gesien het dat die weerlig die geyser van die amblusieblok raakgeslaan het.
“Daai een weerligstraal het die vier manne in die stort raakgeslaan.”
Johan het vertel hoe hulle erg in skok was en in ’n kring gestaan en huil het.
“Ek onthou dat Andries nie sy regterarm kon voel nie. Pieter het ’n baie groot brandmerk op sy skouer gehad, Jakes het net gekla van lyfseer en Anthoni kon nie sy tone voel nie.”
Hulle het toe alles opgepak en huis toe gery.
In hospitaal opgeneem
Op 22 Desember het Pieter se vrou hom hospitaal toe geneem omdat hy baie deurmekaar was.
Dokters het gevind dat sy niertelling laag is en dadelik met behandeling begin. Hy is dieselfde dag onstlaan.
Jakes is op 23 Desember ook hospitaal toe omdat hy sleg gevoel het, maar na behandeling is hy ook op dieselfde dag ontslaan.
“Maar, die volgende dag is hy per ambulans hospitaal toe gejaag omdat hy nie wakker geword het nie. By die hospitaal het dokters vir ons gesê dat sy een long platgeval het en dat hy senuweeskade, nierskade en moontlike hartskade het,” het Johan gesê.
Jakes was vanaf 24 Desember tot 31 Desember 2019 in ’n koma. Hy sterk tans in die hoësorgeenheid aan en word met tye gehelp om asem te haal.
“Ons is vol moed dat hy sal herstel.”

Boodskap ontvang
Andries het na die nare gebeurtenis aan Johan gesê dat hulle hul lewens moet regkry en dat daar ’n boodskap in die gebeurtenis is.
“Ons moet weer fokus op dit wat eintlik belangrik is.”
Volgens Johan is hulle baie dankbaar dat klein Divan in een van die voertuie was toe die weerlig die gebou getref het.
“Dit kon soveel erger gewees het. Ons is net dankbaar dat ons leef,” het Johan gesê.
“Ons sal seker vir ’n tyd lank nog getraumatiseer wees. Dit was regtig ’n nare ondervinding.”
Die familie hou egter steeds Jakes in hulle gebede sodat hy ten volle kan herstel en ook sy survival storie met ander sal kan deel.



