Skool maak seker dat basiese gesondheid en sanitasie toegepas word
“Ons sal aanhou om die situasie in die wêreld en ook in Suid-Afrika te monitor en die riglyne van kenners op die gebied te nader sou die situasie vererger."
Na aanleiding van die inligting en statistiek wat die Wêreld Gesondheidsorganisasie (World Health Organisation) en die Nasionale Departement van Gesondheid beskikbaar stel op hulle nasionale en internasionale webwerwe met betrekking tot die Covid-19 epidemie, het die Veiligheidskomitee van Hoërskool Marais Viljoen Hig School, met ondersteuning van die skool se beheerliggaam, begin om stelsels en sisteme in plek te kry om die risiko van verspreiding van die virus te bekamp.
“Ons as bestuur by die skool is van die opinie dat sukses om die verspreiding van die virus te beperk daarin lê dat goeie basiese gesondheid en sanitasie by die skool en as ’n verlengstuk by elke leerder en personeel se huis toegepas moet word. Die vertrekpunt vir die skool is om relevante en basiese inligting oor Covid-19 te kommunikeer aan alle betrokke partye, soos ons leerders, personeel, ouers in ons gemeenskap en besoekers aan die skool. Die skool poog hierdeur om deur bewusmaking pro-aktief eerder as reaktief op te tree,” het die hoof, Martie Heystek, namens die bestuur gesê.
“Dit is belangrik om te verstaan dat die skool nie ’n kenner op die gebied van medici is nie en daarom is dit van uiterste belang dat ons soveel moontlik doen, binne ons vermoëns, om bewustheid van die virus en die oordraagbaarheid daarvan te bestuur deur inligting gebasseer op feite aan alle partye te kommunikeer.”
Na ’n vergadering gehou was waarin ’n risiko-ontleding gedoen is, het die skool se veiligheidskomitee die volgende stappe geïmplimenteer:
1. Inligting met betrekking tot Covid-19, soos ontvang van die Gauteng Departement van Onderwys, tesame met inligting oor hoe om jou hande te was en die verspreiding van kieme te beperk, is skriftelik aan elke leerder, onderwyser en werknemer in die skool oorhandig.
2. Die bogenoemde inligting is in fyn besonderhedel deur die voorsitter van die veiligheidskomitee met al die personeel van die skool behandel in ’n inligtingsvergadering om sodoende elke personeellid te bemagtig om die feite en riglyne deeglik met elke voogklas te behandel en te verduidelik.
3. Verdere vergaderings is deur lede van die veiligheidskomitee met terreinpersoneel, sekuriteit en die snoepiepersoneel van die skool gedoen.
4. Die bestuurder van die skoonmaakpersoneel het vergaderings met haar spanne gehou oor tegnieke en basiese beginsels om die kleedkamers en toilette se skoonmaak en higiëne op te skerp. Meer gereelde skoonmaak sowel as vervanging van seep en handdoekpapier in die kleedkamers word gemonitor en vervanging van produkte, soos dit opraak, word streng bestuur.
5. Die skool het groot kleurplakkate in elke kleedkamer en op kennisgewingborde as deel van ons bewusmakingsveldtog opgesit.
6. Leerders, personeel en besoekers aan die skool word aangemoedig om enige vorm van fisiese kontak met mekaar te vermy. ’n Oud-kultuur van ons skool se seuns, om mekaar en personeel met ’n handdruk te groet, word tot verdere kennisgewing opgeskort en die skool vra leerders om mekaar verbaal te groet en fisiese kontak te vermy.
7. Die skool kommunikeer riglyne aan leerders en personeel wat stel dat wanneer jy nies of hoes jy dit sal doen in die vou van jou arm by jou elmboog en om eerder dit te vermy om jou hand voor jou mond of neus te plaas. Gebruik ’n sneesdoekie indien moontlik en gooi dit dadelik in ’n asblik weg.
8. Indien ’n leerder of personeellid siek voel of van die simptome van die virus toon, word individue ten sterkste aanbeveel om self die besluit te neem om ’n plaaslike geneesheer te gaan konsulteer.
9. Die skool deel ook die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (National Institute for Communicable Diseases) noodnommer (0800 029 999), soos ontvang van die Nasionale Department van Gesondheid.
10. Leerders en personeel wat gereeld vlieg of oorsee was word aangemoedig om hierdie inligting met die skool te deel sodat die skool rekord kan hou van enige individue wat die risiko staan om met iemand van buite in aanraking te kon gekom het wat ’n draer van die virus is.
11. Die skool is tans in die proses om meer hoeveelhede handewas-seep en handontsmettingsmiddel te bekom en om dit op meer sentrale punte regdeur die skool te plaas. Tot tyd en wyl vra die skool elke leerder en personeellid om ook hul eie handontsmettingsmiddel saam skool toe te bring.
“Vanuit die bogenoemde wil Marais Viljoen daarin poog om seker te maak dat ons as ’n publieke entiteit bydra daarin om voorkomend op te tree en die risiko van verspreiding van Covid-19 te bekamp.
“Ons sal aanhou om die situasie in die wêreld en ook in Suid-Afrika te monitor en die riglyne van kenners op die gebied te nader sou die situasie vererger. Ons sal aanhou om alle moontlike risiko’s betyds te identifiseer en dit binne ons vermoëns te bestuur. Ons is ook gereed om enige verdere instruksies van die Departement van Onderwys en die Departement van Gesondheid te volg sou enige riglyne of reëls aan ons voorgelê word.”



