Helpende Hand nooi gemeenskap uit om aan te sluit
Alberton-tak Helpende Hand vertel die gemeenskap meer oor wat hulle doen en nooi almal om betrokke te raak of aan te sluit.
Solidariteit Helpende Hand se Alberton-tak glo in armoede verligting, voorkoming en verbreking en nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by die organisasie deur middel van vrywillige werk, finansiële ondersteuning of skenkings.
“Hoe meer hande wat help, hoe meer kan ons ons gemeenskap ophef,” sê Judi Muller, Alberton se takvoorsitter. “Die Alberton-tak is nie net betrokke by Helpende Hand se nasionale projekte nie, maar pak ook plaaslike projekte aan soos ons die behoefte in ons gemeenskap identifiseer. Ons wil graag selfstandige en volhoubare projekte van stapel stuur om sodoende armoede in die gemeenskap nie net te verlig nie, maar ook te voorkom en te verbreek,” sê sy.
Onlangs was die tak betrokke by die Helpende Hand nasionale Skooltassieprojek waartydens 4 600 skooltassies aan behoeftige graad eens regoor die land uitgedeel is. “In die Alberton-area het ons hierdie jaar 70 tassies uitgedeel en ons doelwit is om volgende jaar nog meer kinders in ons gemeenskap te help,” sê Johan Olivier, die projekleier by die Alberton-tak.
“Helpende Hand glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê, en daarom is dit belangrik dat behoeftige graad eens op ‘n gelyke vlak met hulle klasmaats hul skoolloopbane afskop,” sê hy.
Die Helpende Hand Alberton-tak het hierdie jaar ook ‘n rentevrye studiebeurs aan ‘n student uit die gemeenskap toegeken. Hierdie beurs vorm deel van die meer as R16,6 miljoen se studielenings wat hierdie jaar landswyd deur Helpende Hand aan 948 studente toegeken is.
“Deur hierdie rentevrye studielening toe te ken, gee die tak aan een van ons gemeenskap se jongmense die geleentheid om eendag met die nodige vaardighede en opleiding die beroepsmark te betree,” sê Muller.
Volgens Muller beplan die tak nog verskeie projekte vir die jaar waaroor hulle die gemeenskap mettertyd in kennis sal stel. Sy noem egter dat die organisasie nie oor die mandaat beskik om behuising of werk te reël nie. Die tak kan ook nie by maatskaplike kwessies betrokke raak nie aangesien Helpende Hand nie oor statutêre magte beskik nie.
“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by die Alberton-tak, of skenkings by ons naaste skenkingskantoor af te gee,” sê Muller. Belangstellendes kan ook inskakel as Helpende Hand ondersteuners. Ondersteuning beloop so min as R50 maandeliks en dit help Helpende Hand om op die langtermyn genoeg fondse in te samel om projekte en programme aan te bied om armoede te verlig, voorkom en te verbreek.
Skakel gerus vir Judi Muller by 083 454 7326 of judi@justjudi.co.za vir meer inligting of om in te skakel by die Helpende Hand Alberton-tak.



