Local newsNews

KYK: Alberton se Francois opgewonde oor sy musiekvideo

Francois Deysel beskou die vrystelling van sy eerste enkelsnit en album as die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover.

Die talentvolle Francois Deysel van Alberton is baie opgewonde om sy eerste musiekvideo, Sterrekaart, met Suid-Afrika te deel.

“Sterrekaart gaan oor die pad wat jy volg om jou droom te bereik. Dit is die rede hoekom ek op ’n oop pad wou stap in die musiekvideo.

“Volg jou drome, maak nie saak watter tipe pad jy moet stap om dit te bereik nie,” het Francois gesê oor die inspirasie agter die konsep van sy heel eerste musiekvideo.

Die begin van groot dinge

Volgens Francois het hulle die konsep eenvoudig gehou om op hom as sanger te fokus, maar tog ook die boodskap van die liedjie vas te vang.

Die video is op die Meyerplaas in Alberton verfilm deur Renier Henning (wat ook die vervaardiger is), Xander Filmalter en Jaco Smit en deel die beste beeldmateriaal van vier konsepte wat saamgevoeg is om die beste eindresultaat te verseker.

“Ek is baie trots op my eerste musiekvideo. Dit is ’n reuse mylpaal in my lewe om as onafhanklike kunstenaar hierdie video te kon opneem en vrystel,” het Francois gesê.

“Al wat ek kan sê, is dat ek nou beslis nie meer bang of skaam is vir die kamera nie!”

Meer oor sy musiek

Sterrekaart, wat ook sy eerste Afrikaanse enkelsnit is, is in 2018 uitgereik.

Dié treffer is ’n liefdesliedjie wat gaan oor ’n musikant se liefde vir musiek en dit is nogal heel gepas dat dit die een is waarmee sy loopbaan amptelik sou afskop. Dit is ’n gehoor-gunsteling tydens optredes.

Sy ander twee enkelsnitte, Ek Staan Nog en Net Soos In ’n Sprokie, is net so goed ontvang en musiekvideo’s word ook vir later beplan.

Francois beskou egter die vrystelling van sy eerste enkelsnit en album as die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover en hy is nog nie vir ’n dag spyt dat hy die platteland vir die stad se liggies verruil het nie.

Hy is baie doelgerig en het nog baie planne vir die toekoms, wat ’n klein teaterproduksie en landswye toer insluit.

As jy hom vra wat hom inspireer om sekere musiek te sing, sê hy: “Vir my om enige lied te sing moet ek myself daarin kan vind. Die boodskap moet my hart raak. Dis ’n storie wat jy oordra en die gevoel moet daar wees.

“So as ek iets nie ‘voel’ nie, sal ek dit nie sing nie.”

Dieselfde geld ook vir die musiek waarna hy graag luister en hy erken ook dat, hoewel hy lief is vir enige musiek, Afrikaans hom die naaste aan die hart lê.

“Afrikaans is die taal waarin ek gebore is en myself kan uitleef, veral met musiek. Musiek voed die siel en genees die hart en daar is baie liedjies wat my deur moeilike tye gedra het,” gesels hy.

“Die Afrikaanse musiekbedryf is groot en groei elke dag en ek is baie positief dat dit net groter en sterker word in die toekoms.”

Om nederig te bly, is ’n eienskap wat vir hom baie belangrik is en iets wat hy uitleef in sy eie beroep en musiekloopbaan.

Francois se musiek is nie net strelend op die oor nie, maar ’n bewys van wat jy met groot drome, deursettingsvermoë, harde werk en passie kan regkry.

Op ‘n persoonlike noot

Francois het op Senekal in die Vrystaat grootgeword en woon al vir die afgelope 10 jaar in Alberton.

Hy het in 2001 van Potchefstroom Gimnasuim gematrikuleer.

Francois het as kind altyd geloop en sing, en as sy ma hom gesoek het, het sy net geluister na waar die gesingery vandaan kom.

“Ek het op laerskool ‘n bietjie klavier gespeel, toe oorgegaan na kitaar toe, maar nooit een van die twee bemeester nie, waaroor ek vandag nogals ‘n bietjie spyt is.

“Op hoërskool het ek klassieke sangopleiding gekry, wat my baie gehelp het met my vokalereeks.”

Uitdagings inspireer hom daagliks.

“Al weet ek die uitdaging is onmoontlik, sal ek ten minste steeds probeer,” het hy gesê.

Die lekkerste deel, maar ook ‘n uitdaging van sy werk, is dat hy nooit weet wat hy kan verwag van ‘n vertoning nie.

“Mense verbaas my elke keer, en ja, dit is wat elke vertoning ‘n baie intressante uitdaging maak.”

Iets wat mense nie van hom weet nie is dat hy ‘n vlieënier was en vir omtrent agt jaar lank in die lugvaartbedryf was. Sy raad vir jong opkomende sangers is om altyd nederig te bly.

“My raad is die raad wat ek self gekry het toe ek begin het – bly ten alle tye nederig en onthou waar jy vandaan kom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button