Helpende Hande ryk uit na behoeftige graad eens
Meer as 21 000 tassies is al deur Helpende Hand se nasionale Skooltassieprojek aan graad eens geskenk sedert die projek in 2007 geloods is.
ALBERTON – Solidariteit Helpende Hand se Alberton-tak is weer druk besig om fondse in te samel om behoeftige graad eens ‘n kans te gee om op gelyke vlak met hul klasmaats te begin.
“Helpende Hand glo dat armoede uitgeroei kan word deur in opleiding te belê,” sê Judi Muller, die takvoorsitter. “Vir Helpende Hand begin dit reeds met die gevoel van hoop wat die nodige skryfbehoeftes vir hierdie kinders skep.”
Elke rugsakkie bevat ‘n skêr, gom, liniaal, witbord, penneblikkie, inkleurpotlode, uitdraaikryte, waskryte, witbordpenne, uitveër, skerpmaker, inkleurboek, witbord-uitveër, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal.
Die Alberton-tak hoop om vir die 2015-jaar sowat 200 skooltassies teen R250 elk geborg te kry en so ‘n verskil in hul gemeenskap te maak.
Om die projek te ondersteun en ‘n behoeftige kind ‘n beter geleentheid vir die toekoms te gee, kontak gerus vir Johan Olivier, die projekleier, by 083 457 8009 of olivierjr@telkomsa.net



