Helpende Hand loods veldtog om Kerswense waar te maak
Helpende Hand loods het ‘n sosiale-mediaveldtog om R30 000 se Kerswense dwarsoor Suid-Afrika waar te maak.

ALBERTON – Helpende Hand het onlangs die oogmerk van 30 000 ondersteuners bereik en wil hierdie mylpaal vier deur aan gemeenskappe terug te gee en 30 Kerswense waar te maak.
Van November 10 af sal Helpende Hand elke dag een Kerswens ter waarde van R1 000 vervul.
“By Helpende Hand is daar beslis baie vreugde oor die ondersteuning van soveel mense vir die werk wat ons doen,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Daarmee saam beleef ons byna daagliks die vreugde wat 30 000 mense se geld in die lewens van behoeftige mense bring. Nou wil ons graag aan ons onbaatsugtige ondersteuners teruggee deur aan hulle die reg te gee om mense te nomineer wie se Kerswense bewaarheid kan word.”
Die publiek kan van vandag af enige persoon of instansie nomineer wie se Kerswens hierdie jaar deur Helpende Hand bewaarheid kan word.
Enige Kerswens – van ‘n bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ‘n vliegkaartjie kan bekostig nie, tot ‘n sopkombuis wat ’n dringende behoefte aan nie-bederfbare kosprodukte het of ‘n ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee – kan genomineer word.
Nominasies kan slegs deur Helpende Hand se Facebook-blad gedoen word deur op die 30 Kerswense-skakel te klik.
Helpende Hand sal elke dag vir die volgende 30 dae ‘n wenner, wie se Kerswens bewaarheid sal word, op Facebook en Twitter aankondig.
Vir meer inligting rondom die veldtog kan ‘n e-pos na diens@helpendehand.co.za gestuur word.



