Ds Willie groet Alberton
Net so kort duskant 11 jaar het die tyd vir Ds Willie Badenhorst III van die NG Kerk Alberton-Wes en sy gesin aangebreek om Alberton te groet.
ALBERTON – Op 30 November lewer hy sy uittreepreek in dié gemeente en ‘n week later, op die aand van 7 Desember sy intreepreek by die NG Kerk Bellville-Wes in die Kaap.
“Hierdie is nie vir ons ‘n maklike skuif nie – emosioneel beslis nie. Geestelik wel, want ons weet die Here het ons kom haal. Ek weet ook daar is baie mense wat dink dat ons skuif omdat ons hunker na die Kaap, maar die teendeel is egter waar. In my jong dae het ek altyd gesê as ek ‘n beroep in ‘n stadsomgewing kry, sal die Here my maar self moet kom haal, want self sal ek nie gaan nie. Ek is ‘n Bolander, en dis platteland. En tog was hierdie amper 11 jaar vir ons wonderlike jare – hier in die amper-stad.”
Beroep – hoe besluit jy?
“As ek my wens kon vervul sou ons bly. My kinders is gelukkig in hul skole en ons sou hulle hier wou laat klaarmaak met skool. Alberton het goeie skole, skoolhoofde, onderwysers en geleenthede. Ons kinders los hul vriende agter, ek en Andra los baie vriende agter. Tog; alles is vir ons op ‘n hoogtepunt in hierdie tyd: die gemeente is die grootste nog die afgelope 11 jaar, die Klipkoppiefees het vanjaar alle verwagtinge oorskry, Ligstad staan sterk in haar kinderskoene en groei steeds, ons gemeente se Malawi-uitreike se vrugte begin blom, verhoudings in en om die gemeente is gesond, ons gesin is op ‘n lekker plek… maar ons weet ook so dat die liewe Here ons hier kom optel het om ons te verplant en ons sal deurdruk.”
“Hoewel daar baie dinge in ons groet is wat emosioneel in ons siele ruk, was die geestelike pad maklik en reguit. Die antwoorde is so duidelik aan ons deurgegee. Die Here het ons gesin, terwyl ons nie eens fisies bymekaar was nie, op ‘n reis geneem (veral in Jesaja) waarin ons elkeen besef het dat Hy ons as gesin ‘n nuwe lied wil laat sing. – Hy het ons op ons naam geroep. Dis seer om te groet, maar die seer is nie so dat ons vir die Here moet sê dis te swaar nie.”
Oor ons dorp, gemeente en sy mense
“Dit was vir my en Andra en ons kinders, Leanri en Pierre ‘n groot voorreg om in hierdie gemeente en in Alberton ons wortels te kon skiet – veral in ‘n gemeente, met kollegas, wat ons met al ons grille geakkommodeer het.”
“Ek sê jou, as ek vandag oorlog toe moet gaan, kom haal ek al hierdie mense want ek weet dit is mense wat kan saamstaan. “Ek glo die Here het ‘n golf in ons gemeente laat opstaan en ons was bevoorreg om daardie golf te kon ry saam met die gemeente en die dorp se mense. Ek kyk na die Klipkoppiefees se groei oor 10 jaar, die ontstaan van Ligstad (in samewerking met die CMR), ons Malawi-uitreike, ens. – en ek weet dit is geseënd, omdat dit in God se lig gedoen word. Ek glo die liewe Heer het nou iemand anders in plek om hierdie dinge groter te kom maak en ons gun ‘n ander nou die geleentheid om hierdie golf te kom ry, want vir ons was dit onbeskryflik om die groei te kon beleef. As ons net ‘n breekdeel hiervan in Bellville en die res van ons lewens kan ervaar, is dit genoeg.
“Ons is dankbaar vir hierdie dorp se mense en die gemeente wat vir ons vir hierdie tyd geleen was, maar dit is tyd om dit oor te gee.
‘n Boodskap vir Alberton
“As daar iets is waarmee ek Alberton wil los is dit die staaltjie: ‘n wedervaring van myself. As jong predikant in Malmesbury het ons gemeente ‘n plek vir straatkinders begin. Elkana, Hebreeus vir God het geskep. Ons het die plek in containers begin. Toe ons in Alberton kom, het ek matriektoere begin onderneem en elke jaar het ek die matrieks by Elkana verby gevat.
“In die derde jaar toe ons daar stilhou, was daar aangebou, die plek het net bly groei. Ek het by die kombuis ingestap en so in die gesels vir een van die dames gevra: ‘Ken jy vir dominee Willie Badenhorst?’ Sy het bloot ‘nee’ geantwoord. Ek gaan toe verder en sê: ‘Ek hoor hy het die plek begin…’ waarop sy my antwoord: ‘Kan nie waar wees nie. Ek het nog nie van hom gehoor nie. Hy kan dan seker ook nie ‘n goeie dominee wees nie want ek ken hom nie…’
“En wanneer mens oor daai bietjie verleentheid is, besef jy dat dit eintlik die grootste kompliment was. Ons het iets reggekry waardeur die Here verheerlik is. Elkana het nou al na meer as een dorp uitgebrei en God se Woord word so verkondig.
“Dit sal wonderlik wees as ons oor 10 jaar in Alberton kom kuier en die Klipkoppiefees is ‘n weeklange fees, as die Eeufeeskerk weer vol dienste lewer en as Ligstad nog geboue bygekry het. Met ander woorde – ek droom die droom dat ons dorp God sal verheerlik en dat ons deur hierdie projekte God se lig sal laat skyn in ons gemeenskap. Dit is ‘n fees en projek in God se naam, en as Alberton onthou waarvoor dit staan sal dit net goed gaan. Dit is die Here se fees en projekte en die geld wat dit genereer gaan na Sy mense toe.
“As dit tyd is dat ek moet gaan en God my finaal kom haal en ek moet dankie sê, sal ek dankie sê vir my vrou wat saam met my in my bediening staan, my kinders en familie en vir hierdie dorp. Mag God se lig ons bly dring om lief te hê!”



