Ligstad neem hande met Agapedo
'n Groepie van Ligstad se tieners gaan die geleentheid kry om selfkennis op te doen wat hul met toekomstige besluite sal help, en ook om hul gereed te maak vir die ope arbeidsmark.

ALBERTON – Tiaan De Waal van Agapedo: The Purpose Driven Academy, het Ligstad genader om aan 10 tot 12 tieners tussen graad 8 tot 12 die geleentheid te bied om gratis deel te neem aan ‘n vyf-dag werkwinkel wat by Ligstad aangebied gaan word.
Met Agapedo se leuse, “Pursuing my purpose and passion with pleasure”, fokus daarop om ‘n doelgerigte lewe te skep wat pas by jou persoonlikheid, passie en jou doelwitte as boustene.
Die kursus bestaan uit ‘n vyf-dag werkwinkel, en die fokus is op die ontwikkeling van sosiale en emosionele vermoëns. Hier word gewerk aan gewoontes, houding en oortuigings. Selfgesprek kry ook heelwat aandag. Daar word op positiewe gedagtes gefokus waar tieners sal leer om deur hul sogenaamde gemaklikheidsone te breek en dan selfstandig sal kan opstaan.
Indien jy ‘n tiener wil benoem of ‘n tiener is in die gemeenskap van Alberton-Noord en die omliggende woonbuurte, is jy welkom om Alida Jooste (079 693 3666) te bel of direk met Tiaan de Waal (083 790 0106) kontak te maak.
Daar is plek vir ‘n maksimum van12 tieners, en voorkeur sal verleen word aan die tieners wat eerste benoem of ingeskryf is.
Fase 1 van die kursus vind plaas by Ligstad, op die hoek van Van Riebeeklaan en Gerrit Maritzstraat, Alberton-Noord, van Maandag 30 Maart tot Woensdag, 1 April.
Die sluitingsdatum vir nominasies en inskrywings is Maandag, 23 Maart.
Ligstad en Agapedo nooi jou uit om deur die nominasie van ‘n tiener of die inskrywing van jou tiener in ‘n kind se toekoms te belê.



