VLU besin oor die rol van vleilande in ons omgewing
Die VLU Brackenhurst het 3 Junie bymekaar gekom en Marian Glazerson het met die dames gepraat oor die belangrike rol wat vleilande speel in die omgewing.
ALBERTON-Vleilande en die belangrike rol wat dit in die omgewing speel is op 3 Junie by die VLU Brackenhurst-tak se vergadering bespreek.
Die gasspreker, Marian Glazerson, ‘n gekwalifiseerde argitek, was vir 21 jaar ‘n lektor aan die Universiteit van Johannesburg. Sowat 10 jaar gelede het haar lewe ‘n omwenteling ondergaan, toe sy meer begin leer het van vleilande en die bewaring van sulke areas.
‘n Paar jaar terug het Marian se bevindinge dat Huddle Park Gholfbaan deel uitmaak van ‘n vleiland gekeer dat die area ontwikkel word.
Sy verduidelik dat die water en riool pype in die Alberton en Johannesburg area reg langs mekaar loop, en as daar gate in die pype is word die grondwater besoedel en, in die proses, ook die riviere.
“Volgens ‘n berig op RSG vanoggend is 62 persent van ons riviere se water so erg besoedel dat dit onbruikbaar is.” het Marian tydens haar praatjie gesê.
Haar studies het bewys dat vleilande help om riviere se water te suiwer en dat, sonder vleilande en hul funksies, sal die water kwaliteit baie sleg wees.
Sy sê sy verstaan dat ontwikkeling onafwendbaar is, maar vleilande moet in stand gehou word, want hulle speel ‘n baie belangrike rol in die suiwering van die water wat ons gemeenskap moet drink.
Vir meer inligting oor die VLU Brackenhurst skakel gerus vir Anita Lesching by 083 457 6332. Die tak verwelkom nuwe lede.



