FOTO’S: Braai en kuier ten bate van kankerlyer
Piet Streicher, Thys die Bosveldklong se broer, is met terminale lewer kanker gediagnoseer en sy enigste hoop is behandeling in Indië.
R12 000 is by die braaifees vir Piet Streicher, Thys die Bosveldklong se broer en sy voormalige klankingenieur, ingesamel.
Elf ander bekende kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf insluitend Piet Pompies, Jakkie Louw, Wicus van der Merwe, Jay, Marulaboom en Manie Jackson het die dag saam met vriende en familie by die Rietvlei Zoo Farm deurgebring waar ’n fondsinsameling vir Streicher gehou is.
Hy is in November verlede jaar met terminale lewerkanker gediagnoseer en nou is sy enigste hoop behandeling wat slegs in Indië beskikbaar is.
Lees Ook: ‘n BBQ is maar net nie ‘n braai nie
Corné Bornman, eienaar van Borisimo’s Gastehuis in Brackenhurst en een van die Braai-B-Que spanmaats wat twee jaar gelede in Amerika aan ’n wêreld barbeque-kompetisie deelgeneem het, het besluit dat dit tyd was vir ’n reünie.
“Ons het deur hierdie kompetisie, onder andere, vir Thys ontmoet. Ons het regtig goeie pêlle geraak en toe ons hoor van sy broer se siekte het ons besluit om die fondsinsameling te hou,” het Corné gesê. “Thys se musikant vriende het toe ingestem om hom met hierdie dag te ondersteun en ons gaan verseker nie hier stop nie.”

Piet Pompies, van DJ Ossewa-faam en deesdae solo-kunstenaar, het gesê kunstenaars moet mekaar ondersteun.
“As ons nie mekaar in sulke moeilike tye gaan help nie, dan gaan niemand ons help nie. Omdat ons nie ’n vaste inkomste verdien nie, sukkel ons om mediese dekking en lenings te kry. Daarom hou ons daarvan om saam te staan en te help waar ons kan.”
Beide Piet en Wicus van der Merwe, wat al die pad van Port Elizabeth opgevlieg het, het erken dat kunstenaars mekaar net by feeste en funksies raakloop.
“Ons het sulke besige skedules en dit is vir my lekker om jou vriende in die vermaaklikheidswêreld te sien en tyd saam met hulle deur te kan bring,” het Wicus gesê.
“Ek en Streicher loop al ’n lang pad saam.”
Streicher het gesê hy is dankbaar vir al die hulp en ondersteuning wat hy ontvang.

“’n Mens se hele lewe verander in ’n oogwink. Ek werk sedert Februarie nie meer nie omdat ek te veel pyn verduur.”
Hy het op 4 November 2014 met ’n erge pyn aan die regterkant van sy lyf wakker geword wat regdeur die dag net seerder geword het.
“Ek is in die hospitaal opgeneem en dit is eers na verskeie toetse dat daar agtergekom is wat fout is met my.”
Toetse het getoon dat die kanker op sy linkerlong begin het en toe na die res van sy liggaam versprei het.
Streicher het intussen reeds chemoterapie ontvang, maar omdat die behandeling nie gehelp het nie is sy laaste hoop op die Indiese behandeling wat sowat R250 000 beloop.
“Ek is regtig dankbaar vir alles, ook vir almal wat hulle harte vir my oopgemaak het,” het Streicher gesê.
Verwante artikels:
• Owein Lombard memorial fundraiser golf day
• Paul James re-launch and charity fundraiser
• Betel Kerk se jaarlikse fondsinsameling













