Doen vier dekades later steeds sake
Dit was ’n wankelrige begin vir ’n Alberton-Noord motorhandelaar toe een van twee voertuie gesteel is.
VIER-EN-VEERTIG jaar gelede het ’n plaaslike motorhandelaar ’n wankelrige begin gehad, maar nou word die vrugte van jare se harde werk gepluk.
Thys van den Berg, eienaar van Alberton Motors en Roadworthy Centre, in Alberton-Noord, het dié besigheid in 1971 saam met ’n vennoot, Dale Harris, op dieselfde perseel waar dit vandag steeds sake doen, begin.
Die besigheid het eers as Jumaine Motors, ’n kombinasie van hul vroue se name Julie en Charmaine, geheet.
Thys, wat die naam toe in 1990 verander het nadat hy vir Harris uitgekoop het en alleen eienaar geword het, bestuur die besigheid nou saam met sy seun, Christo.

Hy het gesê die besigheid het hom al baie goeie herinneringe en kliënte in die sak gebring, al het dit eers op ’n slegte noot begin.
“Die motorhandelaar het met twee voertuie begin en ons het sommer dadelik baie ryk gevoel,” lag hy.
“Ons het ons hele familie na Durban laat afvlieg vir vakansie, maar met die terugkeer het ons agtergekom dat een van ons voertuie gesteel is.”
Dié voertuig, ’n blou Ford Cortina, is sowat twee strate van die besigheid opgespoor waar dit heeltemal uitgebrand was.
Thys het gesê hy het eers heeltyds assuransie verkoop, maar sy liefde vir motors het daartoe bygedra dat hy na dié industrie beweeg het.

“Ek het ook toe as jongman in die plaaslike orkes, Varietos, gespeel.”
Thys het gesê die besigheid het die afgelope vier dekades heelwat gegroei en bied ook nou verhuring van en herstelwerk aan sleepwaens.
Verwante artikels:
• Car dealer puts vehicles to the test
• Alberante Motor Holdings – a rich history



