Trollie vir trollie sit hulle kos op die tafel
’n Wil om te oorleef het hulle tot die bymekaarmaak van afvalmateriaal gelei.
JY sien hulle soggens deur die strate beur en teen laat middag onder die bultende trollies vol afvalmateriaal kreun – maar dit is ’n inkomste wat hulle help oorleef.
Soms wonder jy of dié mense ooit ’n bestaan maak, maar dit is asof jou tyd nie toelaat dat jy stop en vra nie. Dan, op ’n dag kom daar so ’n welkome stukkie nuus van ’n inwoner af wat die moeite gedoen het om te stop en te vra. En dit is hoe jy nadere kennis maak met Steven Ngcukana en Nono Mashaba.
Die lewe het ook maar sy pad met die twee gestap en hulle ken van dae en weke se werkloosheid, poste wat ingekort is en ’n werk wat net nie genoeg betaal om huis en haard aan die gang te hou nie.
Steven (30) en Nono (29) is albei in Natalspruit gebore, het daar groot geword en het sowat drie jaar gelede na New Market verhuis waar hulle in ’n agterplaas woon. In die verlede het Steven kontrakwerk verrig, maar met die huidige ekonomie is kontrakte soms slegs vir ’n paar maande, en telkens in ander dorpe wat opsigself ’n probleem skep. Nono was ’n huishulp, maar hulle kon net nie die pot aan die kook hou nie. Nadat Steven ook een van die vele ‘slagoffers’ van poste wat ingekort is geword het, het hulle besluit dat hulle ’n alternatiewe inkomste sal moet genereer.
Drie jaar gelede het hulle besluit om soos soveel ander, afvalmateriale bymekaar te maak en te verkoop. Die gesin gebruik twee Mondi-waentjies, waarvan hulle die gratis gebruik het, en maak enigiets van afval plastiek en glasbottels, karton, papier, koerante, koeldrankblikkies en staal bymekaar.
Wanneer dit skoolvakansie is, dan spring die kroos ook in en die hele gesin span saam. Nono se drie kinders, die 14-jarige Lucky en 10-jarige Vumile, help fluks om afvalmateriale bymekaar te maak, terwyl die vier-jarige Mphendulo die tog meemaak.
Maar Steven en Nono se hande staan vir niks verkeerd nie. Hulle doen enigiets van tuinwerk en verf, tot die regmaak en verkoop van weggooi televisies, yskaste en radios waar moontlik.
In die omgewing van Randhart, New Redruth, New Market en Generaal Albertspark het hierdie gesinnetjie al bekende gesigte geword soos hulle soggens van ongeveer 07:00 tot smiddae 15:30 hul trollies laai, sleep en stoot om hul vragte op en af te laai.
En vir hulle is dit nog ’n dag se werk, nog ’n inkomste en ’n kans op oorlewing.
*Op Vrydag, 5 Februarie, het die REKORD verneem dat Steven en Nono se tuiste in New Market deur ’n brand verwoes is wat om ongeveer 03:30 uitgebreek het. Indien enige iemand hul met donasies van klere en toerusting vir hul tuiste kan help, kontak vir Steven of Nono by 078 689 4660.



