Seniors verf en kuier saam Helpende Hand
Organisasie kuier by Silwerkroon Aftree-Oord.
DIT was ’n kleurvolle geleentheid van ’n ander aard waartydens die kreatiwiteit van bejaardes sommer net ontpop het.
Helpende Hand Alberton het onlangs by Silwerkroon Aftree-Oord ’n gesellige verf-, krale- en plakker kuiersessie gehou waar bejaardes aangeraai was om te speel en “uit hul bokse” te klim. Van die inwoners het hulself verbaas met interessante kunswerke wat hulle geskep het.
Deurentyd was vrolike Afrikaanse musiek gespeel, vrae gevra en gebreide poppe (gebrei deur vroue van die Gereformeerde Kerk Brackenhof en geskenk aan Helpend Hand Alberton) as pryse uitgedeel. ’n Inwoner het die lede ook gewys hoe “twist” ’n mens en dit het goeie herinneringe laat opduik.
Agterna is daar saamgekuier met koffie, tee en tuisgebakte lekkernye. Sue Erasmus, Lynda Scheepers en Leon Cloete, bestuurder van Meyersdal Spar, het weereens die lekkerste soet en sout geregte bedien.
Helpende Hand Alberton nooi mense vriendelik uit om by hul tak aan te sluit. “Kom deel jóú klein bydrae met ander, kom beleef jou passie vir omgee sáám met hulle,” het die voorsitter, Judi Muller, gesê.
Vir meer inligting, skakel Izna by 082 591 2128 of stuur ’n e-pos na izna.andrews@gmail.com





