Lag, lag die beste ervaring ooit
Dansgroep vaar baie goed tydens wêreldwye kompetisie in Las Vegas.
“DIT is moeilik om in woorde te beskryf presies hoe geëerd en dankbaar ons is om deel te kon wees van een van die grootste hip-hop danskompetisies in die wêreld,” het een van die dansers, Shenize Bekker gesê.
Die 2016 Hip-Hop Internasionale Wêreldkampioenskappe was van 8 tot 13 Augustus in Los Angeles gehou. Shenize en Chanel van Staden was bevoorreg om as die eerste Suid-Afrikaanse dansers, wat vereer is met Protea SA-kleure in hip-hop, saam met Conquer Crew, Suid-Afrika te kon verteenwoordig by hierdie danskompetisie.
Beide dansers is Albertonners en leerders aan Laerskool Randhart. “Ons het teen 39 ander jong spanne vanuit 20 lande in ons kategorie gedans. Die talent van hierdie dansers was fenomenaal. Dit is wonderlik om te dink dat mense van meer as 20 lande, dieselfde ding kon geniet met gesonde kompetisie onder mekaar waar belangrike leiers van so baie lande nie eers onder een dak kan sit, en dieselfde doen nie,” het Shenize gesê.
“Voorbereiding vir ons dansroetine was nogal intens,” vertel sy verder. Hulle het daagliks saam met hulle afrigter, Wesley Grainger, aan hulle dansroetines gewerk en streng oefenprogramme gevolg.
Kyk gerus na die video om ’n idee van die kompetisie te kry:
“Ons het soos atlete voorberei en gedurende die vier maande voor die kompetisie sterker en vinniger geword. Hoewel ons 36ste gekom het, is die ondervinding wat ons opgedoen het en die wonderlike mense wat ons ontmoet het, die heel beste beloning.”
Gedurende hierdie tyd van voorbereiding het hulle ook ’n hele paar fondsinsamelingsprojekte aangepak, omdat die koste vir die kompetisie, vliegkaartjies en verblyf baie hoog was.
Dit was beslis baie uitdagend om geld in te samel tussendeur die ure van oefen en hulle daaglikse verantwoordelikhede van skool. Volgens haar was dit alles die moeite werd omdat hulle in die proses, lewenslesse geleer het wat hulle karakter laat bou het.
“Daar was gereelde trane, tonne pret en natuurlik kosbare verhoudings wat gebou is wat geen geld kan koop nie. Ons is ook dankbaar vir almal se ondersteuning en ons ouers se geduld en uithouvermoë en vir hul bydraes wat hierdie ondervinding vir ons moontlik gemaak het. Dit was nie net werk en geen pret gedurende ons Vegas-avontuur nie,” het ’n opgewonde Shenize gesê.
Hulle het ook die bekende Vegas Strip besoek, wonderlike winkels en bekende geboue gesien en een aand die dorp in ’n Hammer limousine platgery.
“Dit het ons soos supersterre laat voel.”
“Hierdie is een van die wonderlikste dinge wat in my en Chanel se jong lewens kon gebeur het. Vir my is dans nie net ’n stokperdjie of manier om die tyd om te kry nie. Dit is iets waardeur ek geïnspireer word en waarmee ek ander wil inspireer. Die werkswinkels wat ek bygewoon het, was aangebied deur wêreldbekende dansers en hulle passie vir dans en goeie gesindheid, het my weer laat besef dat jy deur dans, mense positief kan beïnvloed om groter dinge aan te pak as waarna hulle gedink het hulle tot in staat is.
“Ek is so dankbaar dat ons Liewe Heer my hierdie geleentheid gegun het en vir al my talente wat Hy my gee. Ek besef dat sonder Hom is ons tot niks in staat nie.”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.






