OUD-BURGEMEESTERSVROU, Lenie Engelbrecht het op 25 Augustus haar 102de verjaarsdag gevier.
Volgens haar dogter, Daleen van der Heever, het hulle dit met ’n koek, ’n paar eetgoedjies en geskenke gevier. Lenie is op 25 Augustus 1914 in Rustenburg gebore. Sy is in 1938 met haar man Phillip getroud. “Ons het mekaar by ’n partytjie ontmoet en hy het my gevra of hy met my kan dans. Toe ons gedans het, het hy vir my gesê dat hy met my gaan trou,” het Lenie gesê.
Voordat hulle in 1954 na Alberton verhuis het, het hulle eers op Nigel gewoon waar Phillip die burgemeester vir twee jaar was. Phillip was ook ’n paar keer die burgemeester in Alberton in die 70’s en in die 80’s. Hy is op 5 Desember 1992 aan ’n beroerte oorlede.
“Geloof het ’n groot rol in my lewe gespeel en my deur soveel hartseertye gehelp. Ek het net sterker geword,” het sy gesê. Sy is al vir ses jaar lank by die Alberton Tuiste vir Bejaardes in Raceview. Lenie kan nie meer goed sien of hoor nie en weens haar dogter se skouerprobleme kan sy nie haar ma versorg soos sy moet nie. “My ma is redelik gesond,” het Daleen egter gesê.
Lenie kon baie goed gebak het en het diep spore in Alberton getrap. Sy was lank ’n lid van die VLU in Alberton en Nigel. Die 102-jarige spog met vier kinders, agt kleinkinders en 10 agterkleinkinders. “Sy is op haar gelukkigste as haar familie by haar kom kuier,” het Daleen gesê.
In haar vrye tyd luister Lenie graag radio. Iets wat mense nie van haar weet nie is dat sy bang is vir klein katjies.
Lenie het nog tot op die ouderdom van 90 tee by funksies geskink en was ook nog baie betrokke by tuisnywerhede.
Tydens die onderhoud het die RECORD gevra hoe Daleen voel oor haar ma se ouderdom en sy het geantwoord en gesê dat sy geseënd is om haar ma nog hier te hê.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



