ALBERTON – Wanneer ‘n paartjie hul 50ste huweliksherdenking vier, wil almal altyd weet wat is die suksesresept.
Tannie Chris Venter vertel dat hoewel hulle swaarkry ken, het hulle baie sakke sout met liefde saam geëet … en wanneer jy hierdie swaarkry deel met ‘n man, kinders en kleinkinders wat omgee, dan maak dit die lewe net makliker!
Oom Dave (79) en Tannie Chris (74) Venter het op 9 Oktober hul goue huweliksherdenking gevier. Hulle is al vir die afgelope 48 jaar in dieselfde huis in Alberton Noord en is trots op hul omgewing en lewe wat hulle lei..
Saam het hulle drie kinders gehad, Sonet, Marius en Kevin en uit daardie kinders het hulle drie kleinkinders, Shaun, Monique en Mikayla, ryker geword. Hulle spog ook twee agter klein kinders, Shenique en Jayden.
Die twee het heelwat staaltjies om te vertel byvoorbeeld dat Oom Dave skool gegaan het toe die dorp se twee klaskamers nog in die biersaal was. Hy was ook in die destydse Laerskool Paul Kruger, Laerskool President Steyn en Hoërskool Alberton.
Tannie Chris het op ‘n plaas in die Wes Transvaal groot geword.
Hul kinders wens hulle nog baie geseënde jare toe.



