Etiket is eenvoudig bedagsaamheid
“Etiket is eenvoudig bedagsaamheid en ordentlikheid. Dit is vandag glad nie meer hoe dit destyds was nie."
DIE ouer garde onder ons ken die naam Emsie Schoeman al te goed – sy is immers Mev Etiket en sy het weer bevestig dat in al die jare net mooi niks rondom etiket verander het nie. Op 12 Oktober het die Damesklub hul tweede laaste vergadering vir die jaar in die Alberton Aftree-Oord se saal gehou. Gasspreker Emsie Schoeman het ’n bietjie oor etiket gesels.
Die saal was weer eens pragtig, met die hulp van Tas Koch, versier. Die kleurtema van die tafeldoeke en dekor was wit en olyfgroen en die pragtigste orgideë was die middelpunt van elke tafel.

Martie Marnewick, voorsitter van die klub, begin die vergadering met gebed, nuus van lief en leed en opkomende byeenkomste waarin die dames sou belangstel. Dini Jansen neem toe spreekbeurt om al die verjaarsdagdames geluk te wens. “Mag julle elkeen blom waar julle geplant is en mag God julle ryklik seën,” het Dini gesê.
Daarna doen Martie die vergadering se gelukkige trekking (waar ’n paar gelukkige dames ’n geskenkie kan wen, sommer maar net vir die pret daarvan) en toe word die gasspreker, Emsie Schoeman, aan die woord gestel.
“Emsie is steeds, op 83, die voorbeeld van elegansie,” het Martie tydens die bekenstelling gesê. Emsie is bekend as Suid-Afrika se Mevrou Etiket. Sy het al 10 boeke geskryf, waarvan meeste oor etiket, goeie maniere en elegansie handel. Emsie het ook al in ses rolprente van die 1960’s gespeel, waarvan vyf Afrikaans is.
Met ’n grappie of twee begin Emsie haar toespraak oor etiket. “Etiket is eenvoudig bedagsaamheid en ordentlikheid. Dit is vandag glad nie meer hoe dit destyds was nie. Vandag se generasie weet nie wat etiket is nie,” het sy gesê.
“Etiket is om tyd aan tafel as ’n familie te spandeer en nie aandete voor die televisie te eet en van mekaar te vergeet nie. Etiket is om die tafel te dek en ’n blom in die middel te sit – ’n mens eet mos eers met jou oë! Skoonheid is nodig en dit kos niks nie.
“Heet jou gaste welkom as hulle in jou huis instap. Hou jou huis en jouself skoon en netjies. As dit kom by jou voorkoms, adverteer jou brein by die werkplek en nie jou borste nie! As dit kom by jou optrede, wees elegant – hou jou stemtoon kalm en jy sal daarmee kan toor.
“Lag gerus ook. Dit is ons elkeen se plig as God se skeppings om te lag en gelukkig te wees. Hou vas aan en wees trots op jou kultuur, want dis joune. Bly nederig, maar nie te veel dat mense oor jou loop nie. Soek skoonheid, sien dit raak. Glo in God, wees lief vir Hom en Sy engele sal jou begelei,” is die boodskap waarmee Emsie afgesluit het.
Reneé Venter bedank Emsie namens die Damesklub vir haar tyd en raad. Daarna gesels almal lekker saam en geniet ’n heerlike maaltyd van hoenderpastei, groente en gebakte aartappels, asook ’n smullekker sjokolade nagereg. Wat ’n lieflike oggend was dit nou nie!

Die volgende Damesklubvergadering (ook die laaste een vir die jaar) sal op 9 November vanaf 10vm, weer eens in die Alberton Aftree-Oord se saal, plaasvind.
Om dit by te woon of om deel te word van die Alberton Damesklub, skakel gerus vir Trix van der Walt op 083 449 5446.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



