Tannie Sarie word 102
Vandag is sy die enigste oorlewende van al haar broers, susters, niggies en nefies.
Dit is ’n groot voorreg om ’n trippel-getal ouderdom in vandag se tyd te bereik, maar Sarie Breytenbach het op 22 Maart die eer om 102 jaar oud te word, gehad. Sy is in 1916 op die plaas Taaibosbult, langs die Vaalrivier en sowat 25km vanaf Potchefstroom gebore. Sy was een van vyf kinders – twee broers en drie susters – en vandag is sy die enigste oorlewende van al haar broers, susters, niggies en nefies.
Oomblikke van dankbaarheid
Sy is die trotse moeder van drie kinders, vier kleinkinders en vyf agter-kleinkinders. Toe sy jonger was, was sy ’n bedrywige dame wat haar kleinkinders met baie liefde help grootmaak het. Haar eerste kleinkind, Francois Breytenbach, is haar held en sy kan hom nie genoeg omhels en soen wanneer hy by haar kuier nie.

Tans woon Sarie by haar dogter, Joey Jacobs, en sal nêrens anders wil wees nie. Joey pas haar ma sedert 1991 op en al kry sy nie regtig kans om vakansie te gaan hou nie, is sy dankbaar om so baie kwaliteit tyd saam met haar gryse moeder te kan spandeer.
Deur die dag is Sarie rustig en ontspan sy in haar gunsteling sitkamerstoel. Ongelukkig kan sy nie meer as dit verrig nie omdat sy met haar balans sukkel, maar verder is sy nog perdfris en gesond.
Elke dag is genade
In haar jonger dae het Sarie vir haar huis, haar familie en haar kerk hard gewerk. Sy was lief daarvoor om te hekel en brei en sy was baie kreatief. Sy kon baie teddiebere brei en die mooiste hekellappies uit haar kop uit ontwerp en skep.
Joey sê sy glo die geheim tot haar ma se vol lewe is dat sy haar hele lewe lank omring is deur liefde en omgee. Sy is baie lief vir lag, selfs al is daar nie eers ’n rede nie. Sy is ook baie gelukkig om nooit ernstig siek te word nie.
Haar grootste geheim is dat daar nie ’n oggend of aand verbygaan wat sy nie kwaliteit gesigrome aansmeer nie.
Sy is baie lief vir die Here, al is sy nie baie uitgesproke daaroor nie. Sy bid elke dag vir elkeen in haar lewe en mense wat siek is. Haar leuse is dat “elke dag die Here se genade is”.
“My ma is nog altyd baie trots op haar waardigheid en doen altyd moeite om pragtig te lyk,” het Joey met ’n glimlag gesê.
“Sy is te dierbaar en mense kan nie anders as om haar lief te hê nie. Die Here moet haar ook baie liefhê om haar vir soveel jare te spaar.”
Namens die Alberton-gemeenskap wens die REKORD vir Sarie baie geluk met haar verjaarsdag. Mag dit ’n wonderlike jaar wees en ons sien uit na die volgende een.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



