Hervormde Kerk vriend van CSO
Sewe-en-veertig serpe en mussies is geskenk om die seemanne warm te hou.
DIE Najaarsrose (dit is nou as jy ouer as 65 en lidmaat van die Hervormde Kerk, gemeente Alberton is) stuur elke jaar ’n projek van stapel om òf mense in nood by te staan òf sy steun aan die een of ander verdienstelike organisasie toe te sê.
Hierdie jaar het almal aan die werk gespring om serpe met bypassende musse te brei om aan die Christelike Seemansorganisasie (CSO) te skenk.
Die CSO is een van die organisasies wat die gemeente baie na aan te hart lê. Die seelui is soms vir baie lang tye ter see, weg van hulle geliefdes en die CSO ondersteun hulle op verskillende maniere, onder meer deur geestelike bearbeiding en om te probeer om aan elke seeman die Bybel in sy eie taal te skenk. Sy motto is dan ook: Gee ’n seeman ’n Bybel in sy eie taal en jy gee hom lewe in Christus!

Die bekende sangeres Rina Hugo, beskermvrou van die CSO, het verlede jaar die gemeente met ’n optrede besoek en Dr Eleonor Weideman van die CSO het meer oor die organisasie vertel. Rina tree vanweë haar verbintenis met die CSO by gemeentes op om die lidmate van die organisasie bewus te maak.
Die projek is reeds vroeg in die jaar met ywer en entoesiasme van stapel gestuur en die dames het werklik meer as hulle deel gedoen. Tussen al die rose was daar selfs ’n paar dorings wat ywerig meegehelp het. Wie het nou gesê die manne kan nie?
Met die Najaarsrose se onlangse byeenkoms het die voorsitter, Helen Robbertze, altesame 47 serpe en musse aan Dr Wimpie van Schoor, predikant van die Hervormde Kerk, wat namens die kerk met die geestelike bearbeiding van die CSO getaak is, oorhandig.

In sy bedanking het Wimpie die behoefte beklemtoon wat die seemanne aan die verkondiging van die evangelie het, asook om te weet dat soveel mense op land, soos organisasies soos kerke, aan hulle dink en hulle behoeftes op die hart dra. Hy het die CSO se dank aan die Hervormde Kerk Alberton oorgedra. Die gemeente skenk ook jaarliks ’n kontantbedrag aan die CSO.
Die Najaarsrose is trots op hulle dienswerk en, soos altyd met enigiets, was hulle samewerking iets besonders. Om in die najare van die lewe te wees, beteken allermins om heeldag op die stoep te sit en agter die son aan te skuif. Hulle gebruik hulle talente om iets aan die gemeenskap terug te gee en die belangrikste, om dit tot eer van God te doen. Hulle is dankbaar dat hulle ’n deelbydrae kan lewer deur aan Jesus se opdrag te voldoen om die evangelie na alle nasies uit te dra.

Read:
Alberton Child Welfare’s wishes
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



