KOM ONS GESELS MET ALBERTON SE MENSE
OM met mense te werk is Celeste Venter (32) se grootste passie in die lewe.
“Ek het juis my beroep so gekies sodat ek daagliks met mense kan werk en hulle ook laat goed voel oor hulself,” het sy gesê.
Celeste is haar hele lewe lank ’n Albertonner en sy het ’n groot liefde vir die dorp en sy mense.
“Alberton se mense is net uniek. Ek meen ons dorp is bietjie stad en bietjie plaas,” het Celeste gesê.
Sy is ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut en doen al vir 13 jaar lank naels in Alberton en die Suide van Johannesburg. “Ek doen ook masserings en dit is vir my die lekkerste deel van my werk om mense te laat ontspan in ’n wêreld waar ons almal rond jaag na alles toe,” het Celeste gesê.
’n Uitdaging vir haar is as mense fotos van naels bring.
“Ek het selfvertroue, maar ek kan nooit sê dat iemand se naels presies soos daai foto gaan lyk nie en ek wil nie my kliënte teleurstel nie.”
Sy het gesê dat sy in Junie by Two Hearts Salon begin werk het.
“Die span is baie behulpsaam en ek is dankbaar vir Isabel dat sy my die kans gegee het en ook vir al haar motivering,” het Celeste voortgegaan.
Celeste het tydens ’n onderhoud met die RECORD gesê dat sy soveel mense probeer help en akkomodeer as wat sy kan. “Dit hang gewoonlik net af van wat mense wil hê want ek sal eerder minder help en weet dat ek my alles gegee het. Vir my gaan dit oor goeie dienslewering en ek wil seker maak mense kry die waarde vir hulle geld.”
Iets wat mense nie van haar weet nie is dat sy baie stil kan voorkom, maar eintlik is sy nie.
“Ek begin meer babbel sodra ek mense leer ken.”
In haar vrye tyd hou sy daarvan om foto’s te neem. Celeste gaan gereeld na nuwe plekke om foto’s te neem.
“Tyd staan vir niemand stil nie en ek kry ’n geleentheid om oomblikke met my kamera vas te vang.”
Sy spandeer ook baie tyd saam met haar familie en vriende. Sy beskryf die mense van Alberton as baie vriendelik en plat op die aarde.
“Albertonners is ’n gemeenskap baie na aan mekaar. Ek sal nie sommer die dorp verlaat nie. Ek is te lief vir die mense,” het Celeste vertel.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup



