Brafia braai ’n storm los
Corné en Kagiso het hul ervarings tydens die kompetisie, wat oor 60 dae geskiet is, met die RECORD gedeel.
ALBERTON se eie braai wenspan, die Brafia, het vir die eerste keer hul verskyning op die kassie met die eerste episode van Ultimate Braai Master op 3 Februarie, gemaak.
Corné ‘Borries’ Borman en Kagiso ‘Mr K’ Mpinda het familie en vriende genooi om die eerste uitsending saam met hulle te geniet.
Corné en Kagiso het hul ervarings tydens die kompetisie, wat oor 60 dae geskiet is, met die RECORD gedeel.
“Ons was nie heeltemal voorbereid vir wat op ons gewag het nie,” vertel Corné. Die paar het verduidelik dat, tydens die verloop van die kompetisie, juis daarop gemik was om hulle swakpunte te toets en te kyk of hulle daarin kan slaag om dit te oorkom.
“Dit was amper soos om in die weermag te wees. Jy is afgesny van die res van die wêreld. Nog voordat jy ooit ’n vuur aansteek, word jy reeds getoets. Ultimate Braai Master word nie verniet die taaiste buitelug kookkompetiese genoem nie,” het Corné gesê.
Propvol avontuur
Tog was alles nie vir Brafia te veel nie en hulle voel hulle het hulself goed van hul taak gekwyt.
“Dit was alles deel van die pret,” sê Kagiso. “Die ervarings was eerlikwaar ongelooflik.”
Vir Kagiso was die kompetisie ’n avontuur met baie nuwe ervarings. Nie net was dit die eerste keer wat hy gevlieg het nie, maar vele van die uitdaagrondes wat die senuwees getoets het, het Kagiso met braafheid aangepak
“Die eerste keer wat ek gebungee het, was die hoogste bungee in Afrika,” het hy met ’n glimlag vertel.

Die Brafiaspan sê dat hulle heelwat geleer het tydens die kompetisie. Onder andere voel hulle dat hulle geleer het om iets eenvoudig te hou kan soms die regte uitweg wees.
Dit was ’n emosionele ervaring vir die manne van Brafia om hulself vir die eerste keer op televisie te sien.
“Daar was baie afwagting,” het Corné gesê. “Dit was lekker om die eindproduk van al die harde werk oor die dae van skiet te sien.”
Kagiso het gedeel oor hoe dit vir hom sin gemaak het, toe hy die program begin kyk het, presies hoekom hulle dinge gedoen het soos dit gedoen was.

Corné en Kagiso het met die RECORD gedeel dat dinge in die kompetisie vir die Brafia baie goed gegaan het.
Mense kan gerus Ultimate Braai Master elke Sondag op e.tv om 4nm dophou en die reis saam met hulle volg. Volg ook gerus Brafia op Facebook op Brafia – AKA the Braai Mafia.



