Wonderwerkbaba hou van ballet
PRISCILLA Hart van Brackenhurst het baba Esmi Boucher se storie in die RECORD gelees en haar verhaal van hulle eie wonderwerkbaba, wat ook by die Clinton gebore is, Qwin Hart, met die RECORD gedeel: QWIN is op 7 Desember 2009 op 25 weke van swangerskap gebore en het slegs 709g geweeg. Sy ma het komplikasies …
PRISCILLA Hart van Brackenhurst het baba Esmi Boucher se storie in die RECORD gelees en haar verhaal van hulle eie wonderwerkbaba, wat ook by die Clinton gebore is, Qwin Hart, met die RECORD gedeel:
QWIN is op 7 Desember 2009 op 25 weke van swangerskap gebore en het slegs 709g geweeg.
Sy ma het komplikasies met die swangerskap gekry na slegs 19 weke van swangerskap toe haar water skielik gebreek het op 3 November 2009.
Sy is toe in die Clinton hospitaal opgeneem. “My ginekoloog het ‘n dag of twee later vir my die keuse gegee om ‘n aborsie te ondergaan, want as die baba op 19/20 weke gebore sou word, was die kanse om oorlewing bitter skraal,” vertel Priscilla.
“Ek het nie eens gehuiwer of gedink nie. Ek het net nee gesê en hy het my keuse gerespekteer.”
Op 7 Desember 2009, na ‘n rukkie se verblyf by die hospitaal en haar huis waar sy gemonitor was, was Priscilla in die hospitaal weens ‘n paniekaanval opgeneem.
“Daardie middag het ek verskriklik begin bloei. My ginekoloog het dadelik ‘n noodkeisersnee aangevra en so ‘n uur of twee later is ek teater toe. In die teater daardie aand was daar beslis engele – iedere en ‘n elk wat gehelp het met die bevalling. Dit was baie duidelik my seun se beste belange is op die hart gedra.”
Qwin was by se geboorte baie klein en van die deeltjies van sy lyf het nog nie ontwikkel nie. “Qwin was ‘n fighter. Vandat my water gebreek het en elke dag daarna.”
Sy verblyf in die neonatale saal in die Clinton hospitaal was nie maklik nie. Gedurende die kersseisoen het Qwin twee keer ophou asemhaal en sy hartjie het gaan staan.
Dokters en susters het sy lewe gered en hom weer laat asem haal. Na dié geval moes Qwin vele pypies, medisyne en hulp kry.
As gevolg van sy vroeë geboorte het hy ook vele infeksies gekry.
“Gedurende al hierdie tye was sy lyfie te delikaat vir my om hom vas te hou. Ons kon so nou en dan aan hom raak maar nie te veel nie,” het Priscilla gesê.
“Uiteindelik, aan die einde van Januarie 2010, kon ek Qwin vir die eerste keer vashou.” Qwin was vanaf 7 Desember 2009 tot middel Februarie 2010 in die Neonatale ICU voor hy huis toe is.
“Qwin was daarna vir seker nog so ‘n maand op suurstof tot hy eendag, net so uit die bloute, dit net nie meer nodig gehad het nie.”
Hy staan sy skoene vol
Vandag dra die jong Qwin min tekens van sy lang verblyf in neonatale saal en vroeë geboorte.
“Qwin is in Laerskool Randhart,” sê Priscilla. “Ons het ook in Graad Een opgemerk hy kan nie lekker fokus met sy ogies nie. Hy dra nou ‘n bril maar eerder dit as wat dit dalk erger kon gewees het. Qwin se gesondheid is vir my baie belangrik so om ‘n bril te dra is net nog ‘n faktor, iets wat gehelp kan word.”
Qwin se groot liefde vandag is ballet. “Gedurende sy laaste jaar in Graad Nul het Qwin uit die bloute vir my gesê hy wil ballet doen. Niemand in ons familie doen ballet nie, so waar hy aan hierdie idee gekom het sal net hy weet.”
Ma Priscilla vertel dat dit die beste besluit ooit was want hy bly net groei en verbeter in sy optredes.
“Qwin is gemaak vir ballet en hy het ‘n wonderlike ballet juffrou. Hy het op 8 Junie sy First Grade with the Cecchetti Classical Ballet gedoen. As hy bo 70 persent behaal het kan hy in Roodepoort vir Gauteng kleure gaan deelneem. Ons wag nog vir die uitslae wat vier tot vyf weke vat omdat dit gekombineer en in London verwerk word.”
“My gunstelling deel is om op die verhoog te wees,” sê Qwin.
Qwin se drome is om verder te vorder met sy ballet en een van die top dansers in Suid Afrika te wees. “Ek wil eendag as ek groot is ‘n balletdanser en ‘n chef wees,” vertel Qwin.
En uit al hierdie dankbaarheid gaan die gesin so af en toe terug na die neonatale saal by die Clinton.
“Ons doen dit net om hul te wys hoe groot hy geword het en ook om hom te herinner waar hy was en hoe dankbaar hy moet wees vir hierdie mense wat so mooi na hom gekyk het en sy lewe gered het.”




