Local newsNews

80 jaar van omgee vir ander

Martina het in die 80 jaar geleer dat daar ’n tyd vir alles in die lewe is en dat mens terugslae nodig het om aan te gaan in die lewe.

Martina Botha sien met groot afwagting uit na haar 80ste verjaarsdag.

Vir Martina is 2020 ’n groot jaar en vir haar 80ste verjaarsdag, wat sy in April sal vier, wil sy graag al vier haar kleinkinders saam laat doop by haar kerk.

Sy vertel dat om 80 te kan vier een van haar grootste voorregte is.

“As ek boonop kan sien hoe my kleinkinders saam gedoop word sal my grootste wens ook boonop waar word.”

’n Vol lewe

Volgens haar is mens se ouderdom net ’n nommer en jy is so oud soos wat jy voel.

Martina het in die afgelope 80 jaar geleer dat daar ’n tyd vir alles in die lewe is en dat ’n mens terugslae nodig het om aan te gaan.

Sy bly al vir 43 jaar lank in Brackendowns en was ook een van die eerste vyf vrouens wat deur die polisie aangestel was.

“Ek het vir die veiligheidsafdeling gewerk en het as ’n konstabel begin en as ’n kaptein weggestap.

“Dit was vir my ’n groot eer om na die veiligheid van ons gemeenskap om te sien.

“Daai tyd het jy nie een vaste kantoor gehad nie. Jy was kort-kort verplaas na ’n nuwe stad of dorp.”

Sy het ook haar man, Johannes, in die polisie ontmoet.

Na vyf jaar in die polisie, het Martina besluit dat sy lus is vir iets anders en het toe as interne auditeur by OK Bazaars gewerk.

Sy het ook vir jare in van die bekende banke gewerk voordat sy besluit het om voltyds vrou van die huis te word.

Terugslae en seëninge

Martina en Johannes is in die Waterval gemeente getroud en saam het hulle deur ’n baie moeilike tyd gegaan.

Martina het vele onsuksesvolle swangerskappe gehad en die egpaar het besluit om voogouers te word.

Hulle was 14 jaar lank voogoouers van kinders.

“Na my soveelste mislukte swangerskap het ons saam besluit dat ons kinders gaan aanneem,” het Martina vertel.

Na 14 jaar as voogouers het hulle ’n seun, en 21 jaar later, ’n dogter aangeneem.

“Ek en my man het ’n groot passie vir kinders en ons wou net vir hulle omgee en hulle geliefd laat voel.”

Johannes is in 2010 oorlede en sy hoogste rang wat hy bereik het was majoor.

“Hy was een van die mans met die mooiste hart en hy was die beste pa. Ek mis hom elke dag.”

Vandag spog Martina nie net met twee kinders nie, maar ook met vier kleinkinders vir wie sy baie lief is.

“Hulle sê mos jy dink dat jy jou kinders lief het, maar wag tot jy kleinkinders het.”

Reg vir nog avonture

In haar jonger dae was sy ’n spontane volkspeledanser en sy het op ses-jarige ouderdom begin dans.

Op 73-jarige ouderdom het sy haar laaste dans gedans.

In haar vrye tyd hou sy daarvan om naaldwerk te doen, te bak en te brou en tyd saam met haar kinders en kleinkinders deur te bring.

“My resep vir ’n suksesvolle en gelukkige lewe is om altyd vir jou medemens om te gee. Mens moet altyd eers vir die goeie in ’n persoon soek.”

Iets wat vir haar deur die jare baie verander het is dat die mensdom nie meer weet wat dissipline is nie.

“Om dissipline te hê lei tot baie goeie dinge in die lewe.”

Martina sê sy is reg vir die volgende 80 jaar en sien baie uit na al die nuwe avonture wat die lewe vir haar inhou.

“Ek is glad nie bang vir die toekoms nie, want die man wat my daagliks inspireer, God, is al klaar daar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button