Ouderdom is net ’n nommer vir dié 80-jarige
“Kyk, jy sal verbaas oor hoe God jou deur swaar tye in jou lewe uit tel.”
“Mens sê ouderdom is net ’n nommer, want ek kan met alle eerlikheid sê dat ek nie soos ’n 80-jarige voel nie,” het Lorraine Theron gesê.
Sy het op 15 Februarie haar 80ste gevier, en volgens haar is dit deur die Here se genade dat sy so ’n ouderdom behaal het.
“Baie mense vra my wat my resep is en al wat ek vir hulle kan sê is ‘hê geloof’.”
Sy beskryf die laaste 80 jaar as ‘genade’.
Alberton se burgemeestersvrou
Meeste inwoners ken Lorraine baie goed omdat sy in die vroeër jare met een van Alberton se burgemeesters, Daan, getroud was.
“Ek het gewerk vir Alberton en waar my man was, was ek,” het sy vertel.
Lorraine is ’n ma van drie en sy spog met vier kleinkinders en drie agterkleinkinders vir wie sy baie lief is.
Sy is verder ook deel van die Bracken Blommeklub, die Brackenhurst VLU en die Alberton Damesklub.
Sy brei, hekel, bak en lees in haar vrye tyd en tot vandag toe ry sy nog self af see toe.
“Ek is nie bang nie, want die Here ry mos saam met my en mens kan nie in vrees lewe nie, want dan lewe jy mos nie regtig nie.”
Haar raad aan jonges is dat hulle altyd na Bo moet kyk, of dit nou goed gaan of nie.
“Moenie suinig wees nie en deel uit sonder om iets terug te verwag,” het sy bygevoeg.
Noue ontkoming
Lorraine het ook tydens die onderhoud vertel hoe sy en haar man in November 1994 op die MS Achille Lauro skip was wat gebrand het.
“Kyk, jy sal verbaas oor hoe God jou deur swaar tye in jou lewe uit tel.”
Sy het vertel dat hoe sy iemand se lewe gered het tydens die gebeurtenis.
“Daar was sowat 30 mense op ’n reddingsbootjie en al wat jy gesien het behalwe die brandende skip was hierdie klein bootjies vol mense. Ons was van 7vm tot 2nm op die bootjies totdat die Hawaiin King skip ons kom help het. Dit was ’n dag vol emosie en een wat mens nie sommer sal vergeet nie. Maar deur terug te kyk, kan ek sien dat die Here by ons was,” het sy gesê.




