Sport en Johann van der Merwe was sinoniem
Hy het ook diep spore getrap by omtrent elke sportdissipline in die dorp.
‘n Sportliefhebber se pad kruis dikwels met vele sportmense op verskillende vlakke.
Daar is egter relatief min sportmense wat soveel ingeligte kennis van sport gehad het, en so gesaghebbend oor bykans enige sportsoort ‘n sinvolle gesprek kon voer, as Johann van der Merwe wat op 20 April oorlede is.
Voorts was hy ook een van nie volop gesoute sportbestuurs-administrateurs wat ook ervare sportskrywer was en ook self as speler op die sportveld uitgeblink het.
Goue era van Albertonrugby
Johann se lang en goue verbintenis met Albertonsport het in die sestigerjare afgeskop met sy indiensneming by die Stadsraad van Alberton gedurende Oktober 1960.
Sy eerste volle seisoen as deel van Albertonrugby was in1961, ook die begin van die goue era van Albertonrugby, waar die klub vir die eerste keer vir ‘n hele dekade, onafgebroke in die sestigs, in die hoogste Pirates Grootuitdaagliga van Transvaalrugby meegeding het.
Albertonrugby se eerstespan in die seniorliga in die 1962 seisoen, word in die geskiedenisboeke van Albertonrugby nog tot vandag beskou as een van die suksesvolste spanne nog.
Johann was ‘n staatmaker van daardie span wat die ongelooflike rekord gehad het van 16 oorwinnings in 20 wedstryde, met twee gelykop, een onbesliste uitslag en slegs een enkele neerlaag die hele ligaseisoen.
Dit was slegs teen die magtige Diggers, wat vanaf 1949 tot 1978 klubrugby in Transvaal totaal oorheers het met verowering van die ligabeker 20 keer in 30 seisoene, wat hulle die knie moes buig.
Daardie span waarvan Johann lid was, verloor teen Diggers met slegs 11-5 maar verhang die bordjies in hul herontmoeting deur Diggers met 21-3 af te ransel.
‘n Geraamde spanfoto met ‘n trofee wat hul verower het was een van Johann se trotse besittings volgens homself in sy huis.
Transvaal se kaptein teen die 1962 Britse Leeus Daan Dippenaar, latere Burgemeester, het die span aangevoer.
Sport was in sy bloed
Na sy uittrede uit aktiewe rugby het Johann sy volle gewig by die klub ingegooi as leidende bestuurskomiteelid.
Soveel so dat hy ‘n integrale deel van Aberton se tweede goue era in die tagtigerjare was nadat hy reeds in 1971, nog voordat hy stadsraadslid geword het, voorsitter van Alberton Rugbyklub was.
Dit was ook een van sy trotse geraamde fotos wat in sy huis gepryk het.
In sy tyd van betrokkenheid verower Alberton die gesogte Pirates Grootuitdaagbeker in 1982 en deel die beker met RAU, die Universiteit waar hy op hul raad gedien het, in 1979 en weer gesamentlike wenners met Wanderes in 1983.
Gedurende hierdie tyd dien hy ook op die Raad van die Tranvaal Rugby Rugbyvoetbal-Unie.
Langs die veld
Waarvoor hy egter die bekendste langs Alberton se rugbyveld was, was sy rol waar hy verslag gedoen het oor Albertonrugby Saterdag na Saterdag, vir bykans twee dekades in sy hoedanigheid as die grootbaas van die Alberton RECORD.
Nadat hy weens gesondheidsredes in die middel negentigerjare sy betrokkenheid by sekere gemeenskapsaktiwiteite geleidelik begin verminder het was dit my voorreg (Peet van Niekerk) om die mantel by sy groot mentor oor te neem om oor Albertonrugby verslag te kon doen.
Tog het hy vir al die tyd, selfs na sy aftrede rondom 2000 nog steeds sy goeie vriend, Peet van waardevolle raad en bystand vir die korrekte manier van rugbyverslaggewing voorsien.
Die inhoud van die argiewe van die Alberton RECORD is ‘n monument vir sy baanbrekerswerk in Albertonrugby as speler, bestuursadministrateur, verslaggewer, mentor, voorsitter en ere-president.
Diep spore
Dit was egter nie net by rugby waar hy sy stempel afgedruk het nie, maar hy het ook diep spore by omtrent elke sportdissipline in die dorp getrap .
Benewens die feit dat die ere-presidentskap van 13 sportklubs in Alberton oor die jare heen aan hom toegeken is, het hy ‘n fundamentele rol in gespeel in die daarstelling van verskeie onontbeerlike sportfasiliteite vir die sportgemeenskap.
Dat Albertonsport voorwaar armer gaan wees sonder Johann van der Merwe, word weerspieël in die wense van meelewing telefonies uitgespreek na sy afsterwe, deur die manne aan die stuur van drie van die dorp se voorste sportklubs en op stadiums as voorsitter of president, naamlik rugby Manie Reyneke, ringtennis Abrie Pienaar en Patrick Moroney krieket en rugby.
Dat hy en sport sinoniem was, word weerspieël op persoonlike vlak waar sy groot tydverdryf liefde vir koerantlees en boeke, insluitend sportbiografieë was.
Gevolglik kon hy gesaghebbend sy mening uitspreek oor enige sportgebeurtenis of sportonderwerp.
Sy sportkennis en wysheid gaan nog vir altyd in gesprekke voortleef.



