Oudisies vir nuwe lede van sanggroep word eersdaags gedoen
Showtime Records het aangekondig dat hulle oudisies gaan doen vir twee nuwe lede vir die mans-sanggroep, Il Quinto. Die groep se fokus sal geskuif word om buiten die internasionale mark, ook die plaaslike Afrikaanse mark te dien.

Il Quinto bestaan uit vyf manlike sangers, en die groep het reeds groot sukses in die buiteland behaal met duette wat saam met onder andere Paul Potts (Britain’s Got Talent-wenner), en die Amerikaanse superster Taylor Dayne opgeneem is. Taylor Dayne het reeds meer as 75 miljoen albums wêreldwyd verkoop.
Die produksie van die groep se debuut-album, Facing a Miracle is in vyf lande, o.m. Swede, Nederland, België, Britanje en Suid-Afrika gedoen en bestaan hoofsaaklik uit splinternuwe werke, geskryf deur top internasionale liedjieskrywers.
Facing a Miracle met Il Quinto en Taylor Dayne het die Top 10 in sewe Europese lande bereik en het die nommer nege posisie in die Top 100 enkelsnit CDs vir 2010 op die wêreld se grootste aanlyn-winkel vir dansmusiek, Perfectbeat.com, bereik. Die liedjie het verkope van Lady Gaga, Pet Shop Boys en talle ander mega-sterre se vrystellings oortref!
Il Quinto het die duet, Ti Amo saam met Paul Potts in Londen opgeneem en het ook gedurende April 2012 by die Chiang Mai Internasionale Musiekfees in Thailand opgetree.
Il Quinto is veral bekend daarvoor dat hul musiek ‘n wye verskeidenheid “crossover” musiek insluit. Van klassiek na pop en telkens met ‘n Afrika-element.
Aansoekers moet verkieslik die volgende eienskappe besit om in aanmerking te kom:
Aantreklik, met sterk solostem wat 100% nootvas moet wees, moet ten minste in Afrikaans, Engels en Italiaans kan sing, ‘n charismatiese verhoogpersoonlikheid hê, ondervinding en begrip van harmonisering, ondervinding van stemproduksie, en bereid wees om te reis.
Aansoeke moet die volgende bevat:
· MP3 opname (demo)
· Biografie
· Profiel foto
· Repertoirelys
· Kontakbesonderhede
Manlike sangers tussen die ouderdomme van 20 – 35 kan aansoeke deurstuur na: carien@showtimerecords.co.za of lambisproductions@wbs.co.za



