Bentleys trek wortels op
Totsiens Alberton - dit is tyd om te verplant en ons groet na 60 jaar...
ALBERTON – Net so bekend soos die voorstad Verwoerd Park van Alberton is, net so bekend is die Bentleys van Verwoerdpark wat nou, na 60 jaar hul Albertonwortels optrek.
Nadat beide Johan en Lenie Bentley in Alberton gebore is, hier skoolgegaan het en hulle hele beroepslewe in Alberton gewerk en gewoon het, gaan hulle nou vir die laaste fase van hul lewe hul wortels in Sydney, New Suid-Walllis in Australië inplant.
Hul drie kinders het reeds almal Australiese burgerskap en dis die rede vir die permanente vertrek na doer onder.
Johan “Wiele” Bentley was in die sewentigerjare ‘n bekende Albertonse rugbyspeler en skitterende losskakel. Die hoogtepunte uit sy rugbyloopbaan was sy debuut vir Alberton se eerstespan in sy eerste Pirates Grootuitdaagbekerliga teen Vereeniging, met sy direkte no.10 teenstander die legendariese Springbok Gerald Bosch. Hierbenewens het hy in 1970 een wedstryd vir Noord-Transvaal o.20 uitgedraf as heelagter, terwyl hy in die Lugmaggimnasium was. As ‘n passievolle rugby-ondersteuner, het hy sy formidale versameling van rugby-memoribilia in Alberton nagelaat.
Johan se eggenote Lenie (gebore Jordaan), word deur vele Albertonners as hul dagmoeder oor ‘n tydperk van 28 jaar onthou, waar sy ‘n dagmoeder vir kleuters in Verwoerd Park was. Uit Johan en Lenie se huwelik van 40 jaar is drie kinders gebore, wat al drie CA-gekwalifiseerd is en al drie in Sydney woon. Lillian Bentley is die oudste, Oud-Hoërskool Alberton atleet en rugbyspeler Morné Bentley is die tweede oudste, terwyl Madelein Bentley, wat in 2001 hoofmeisie van Hoërskool Alberton was, die ma van die Bentleys se kleinseun Bethan Compionis.
Johan “Wiele” Bentley, wat as graad 11 leerder (destyds standerd 9) in die 1960’s Hoërskool Alberton se sportman van die jaar was, wil met sy vertrek spesiaal totsiens sê aan twee onderwysers uit sy skoolloopbaan, menere Faan Benade en Jorrie Jordaan, en ds Willie Badenhorst van Verwoerd Park.
Die Bentleys beskou Alberton as die beste dorp in die land en gaan veral hul vriende en kennisse mis, en maak geen geheim daarvan dat hulle na byna 40 jaar veral die Alberton REKORD baie gaan mis en die koerant se afwesigheid ‘n groot leemte vir hulle gaan laat.



