Solidariteit hou kuierdag vir die jeug
Solidariteit Helpende Hand se Alberton-tak het onlangs saam met jongmense en die huisouers van 'n plaaslike jeugsorgsentrum 'n heerlike kuieroggend by Acrobranch in Melrose gehou ter afsluiting van die jaar.
ALBERTON – Judi Muller, voorsitter van die Alberton-tak, vertel dat die jongmense vir die eerste keer in hul lewens aan ‘n “canopy tour” deelgeneem het deur met harnasse tussen die bome te swaai.
“Sommige van die jongmense het nooit geweet hulle het soveel durf en moed nie!” lag sy. “Die jongste deelnemer was ses jaar oud, ‘n stil outjie wie homself gate uit geniet het. Ander wou weet of hulle die volgende dag weer kon kom!”
Helpende Hand het ook gesorg vir heerlike tuisgemaakte verversings en vrugtesap en almal het lekker saam gekuier, sê Muller. “Dit was ‘n onvergeetlike dag en oorspronklike afsluiting vir die jaar.”
Persone wat graag by Helpende Hand se Alberton-tak betrokke wil raak, kan hulle kontak by Shh.alberton@gmail.com



