Local newsNews

‘n BBQ is maar net nie ‘n braai nie

Borries, oftewel Corné van Borisimo's, is sinoniem met braai. Waar daar 'n feestelike geleentheid is, daar is Borries, 'n braaikoning in eie reg en uit eie bodem.

ALBERTON – So besluit hy en sy spannetjie dat hulle hierdie jaar weer Suid-Afrika in Amerika sal verteenwoordig by “The Jack” onder die naam Braa-B-Que South Africa met Borries as spankaptein en BraaiBoy as ‘co-captain’ en Peter Schoeman die nuwe man aan boord.

“The Jack” staan bekend as die ‘Superbowl of BBQ’ in die VSA, en daar was 92 spanne in totaal. Uit dié klomp was daar 20 internasionale spanne van 17 lande.

Borries beskryf dit as ‘n strawwe kompetisie waar hulle teen die beste BBQ spanne van Amerika en internasionaal te staan gekom het.

“Ons het begin in Atlanta waar ons met ‘n RV gereis het na Mount Pleasant Tennessee en daar het ons deelgeneem aan die Mid-South Barbeque Festival. Hier het ons nader kennis gemaak met ‘n oud-Suid-Afrikaner, Linkie Marais. Sy is nou ‘n ‘celebrity chef’ in die VSA wat op koskanale is en demonstrasies regoor die land doen. Sy het ongelukkig klaar ander verpligtinge gehad en kon nie die res van die reis na Lynchburg met ons meemaak nie.”

Behalwe vir nuwe vriendskapsbande wat gesmee is, het die span ook nuwe tegnieke geleer, en moes hulle vinnig leer hoe om met geleende BBQ ‘smokers’ te werk. “Ons groot hindernisse is die feit dat ons met ‘smokers’ gewerk het wat aan ons geleen of geborg is. En jong, ‘n BBQ ‘smoker’ is soos ‘n vrou wat jy eers moet leer ken.

Kyk, braai is braai. Maar BBQ is beslis iets anders en om iets vir almal se smaak saam te slaan is nie maklik.

“Die smaakprofiel van die beoordelaars in elke staat verskil, en dan verskil dit nog boonop heeltemaal van wat ons in Suid Afrika ken,” verduidelik Borries.

Maar eenkant toe staan en opgee was daar nie.

“Nee,” sê Borries, “Die Amerikaners waardeer ongelooflik dat ons so ver reis om aan hul kompetisies deel te neem. Soveel so dat ons die ‘Key to the City’ toegeken is in Mount Pleasant. Dit is ‘n dorp met ‘n groot hart en baie geskiedenis en vir ons ‘n groot eer.” Hier het hulle ‘n tweede plek gekry vir ”Cooking from the Homeland” deur Jack Daniel’s, een van die agt kategorieë in die kompetisie.

“Vandaar is ons na Lynchburg, Tennessee toe waar al die Jack Daniel’s wat internationaal verbruik word vervaardig word. Dit is nog ‘n kleiner dorp met minder as 400 inwoners, maar gedurende daardie periode is daar 25 000 mense wat kom kyk na die BBQ aktiwiteite van regoor Amerika en die wêreld.”

Wanneer hy gevra word na die verskil tussen ‘n eg Suid-Afrikaanse braai en ‘n BBQ, sê hy: “My gevoel is dat almal in Suid Afrika kan braai, maar dat die kombinasie van braai, en die tegnieke wat gebruik word in BBQ Smoking, ongelooflike resultate gee en waarlik iets anders is. Dit sal seker nog lank vat voor ons hulle kan uitoorlê in wat hulle al vir dekades in Amerika doen, maar intussen was dit ongelooflik om die kultuur te beleef, vriende te maak van regoor die wêreld en die komeraderie te beleef tussen die spanne wat teen mekaar deelneem.

“Een ding is egter baie seker. As hulle Suid Afrika toe kom vir ‘n Braai-kompetisie gaan hulle pak slae kry …”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button