Bedelaars – so kan jy help
Word deel van die oplossing - kry 'n CMR koopbewys.
ALBERTON – Daar word al meer bedelaars op Alberton se straathoeke gesien – so asof hulle skielik hul intrek in die dorp geneem het.
Soms is dit maklik om jou blind te hou vir hulle, maar wanneer jy wegtrek wonder jy altyd of jy die regte ding gedoen het – of jy nou gegee het of nie.
CMR Alberton ontvang verskeie navrae oor bedelaars, in besonder oor die vrouens wat met kinders op straathoeke staan . “Inwoners wil weet wat organisasies soos ons omtrent die bedelaars doen,” sê Ankia, sosiale werker by CMR.
“Ek wil vandag egter die gemeenskap vra of hulle dink hulle help iemand deur geld in hul hande te stop en weg te ry? Daar is verskeie soorte mense wat in ons strate bedel. Elk met hulle eie probleme, omstandighede en redes vir hoekom hulle doen wat hulle doen. Geld in die hand veroorsaak dat hulle langer op die straat gaan bly, juis omdat hulle geld ontvang. Help liefs op ander maniere. Gee kos of klere, ‘n warm kombers of bied ‘n werkie aan.
“Ons sit met hedendaagse probleme soos dwelm- en alkoholmisbruik, werkloosheid, kinder- en mensehandel. Alles omstandighede waarin baie van hierdie straatwandelaars vasgevang is. Sonder ons, en sonder die regte soort hulp, gaan hulle nooit daaruit kan kom nie.”
‘n Beroep word op inwoners gedoen om betrokke te raak by CMR en ander organisasies se bewusmakingsveldtog. ‘n R20 koopbewys is beskikbaar by CMR, en Albertonners kan ‘n paar van dié aanskaf en dit dan uitdeel aan bedelaars.
Met die koopbewys gaan die bedelaar na CMR. Die koopbewys gee hulle ‘n onderhoud vir behoeftebepaling, kos, klere indien nodig, en in sommige gevalle selfs alternatiewe verblyf.
Kontak CMR 011 907 2922 vir meer inligting en word deel van die oplossing.



