Baasbakster sedert 1973
IN 1973 begin Marie Coetzee vir die Alberton Tuisnywerheid bak en vandag is sy die oudste lewende lid in Alberton wat nog heerlike eetgoedjies bak.
ALBERTON- In 1973 begin Marie Coetzee vir die Alberton Tuisnywerheid bak en vandag is sy die oudste lewende lid in Alberton.
Met die instap by haar huis in Eerste Laan, vul die gebak van boerebeskuit my wese en meteens is ek in my Ouma se plaaskombuis. Saam met die boeretroos dra Oom Gert haar man heerlik bederfies aan. Saam huis toe, is ek oorlaai met ‘n skinkbord vol klein melktertjies, vleisrolletjies, Lemingtons, kaasstrootjies en veel meer.
Neffens die huis het Tannie Marie ‘n klein bakkerytjie en een van haar dames is al vir 18 jaar lank haar regterhand. Sy onthou die goeie ou dae toe daar nog 25 dames by die Tuisnywerheid gewerk het. Nou is daar net nege dames wat help bak.
‘n Gedeelte van die wins van elke dame help om vir die huur van die winkel te betaal in die Nevada sentrum. So help hulle om die besigheid aan die gang te hou en mekaar te ondersteun. Die gebak is altyd vars en van die hoogste gehalte. Alle gebak mag net vir twee dae in die winkel bly.
Tannie Marie en Oom Gert is albei in Alberton gebore; soos Oom Gert sê; “Gebore en getoë in Eerstelaan.” Hulle trou in 1968 in die Alberton NG kerk Oos. Toe hul oudste dogter in graad een is, begin Tannie Marie bak. Met die geld wat sy maak, betaal sy vir skoolfooie en die drie kinders se studies ná skool.
Hulle oudste dogter, Suretha Botha, is in 2005 ‘n Mevrou Suid Afrika finalis, en werk vandag saam met haar man in die staalbedryf. Melanie van Staden, hul tweede kind, is ‘n fotograaf in Alberton en het haar ateljee in Eerstelaan. Hulle laatlam Gerhard werk in die rekenaarwêreld en aldrie bly nog in Alberton.
In die straat ná die onderhoud ruik ek steeds die anys- en boerebeskuit. Ek hoop terdeë dat die ongelooflike bakvernuf nie saam met dié generasie sal verdwyn nie.
As jy vir die Tuisnywerheid wil bak of selfs wil leer bak en deel word van ‘n stukkie geskiedenis, bel vir tannie Marie Coetzee op 011 869 7222 of 082 413 4632. Sy neem ook bestellings vir funksies en partytjies.



