KYK: Plaaslike musikant is reg om gehore te bekoor
Drehardt Dickson, ’n musikant van Alberton, sê dit was ’n belangstelling in die skoner geslag wat ’n liefde vir musiek by hom aangewakker het.
ALBERTON — Die musiekgogga het hom reeds op ’n jong ouderdom gebyt, maar sy liefde vir musiek is eers aangewakker nadat hy belangstelling in die skoner geslag begin toon het.
Drehardt Dickson (29), ’n plaaslike musikant en Alberton inwoner, tokkel graag op sy kitaar en het reeds meer as 250 liedjies gepen.
“Nie al die liedjies is so goed nie, maar dit is hoe ’n mens se skryfvernuf groei,” lag hy.
Dié elektriese ambagsman, wat vir meer as 10 jaar reeds by Eskom werk, het verlede jaar in Junie besluit om sy passie en droom as musikant voort te sit.
Lees Ook: Kyle Grant on his musical journey
“Ek kom uit ’n musikale familie. Musiek maak is in my bloed en ek het net besluit dat dit tyd is om terug te keer na dit waarvoor ek lief is.”
Drehardt se pa het sy eerste kitaar vir hom gekoop toe hy vyf jaar oud was.
“Natuurlik het ek nie regtig geweet wat om daarmee te maak nie en het meer lawaai as musiek gemaak.”
Luister na Drehardt se enkelsnit Vry my in die donker:
Dit was egter eers toe hy as leerling aan Hoërskool Sarel Ciliers in Glencoe, KwaZulu-Natal, in meisies begin belangstel dat hy besluit het om die kitaar wat sy pa vir hom in graad agt aangekoop het, tot sy voordeel te gebruik.
“Ek het onder die boom gesit en myself geleer hoe om die kitaar te speel sodat ek meisies met my musikale talent kon beïndruk,” lag hy skamerig.
Lees Ook: ATKV vereer Alberton inwoner
Drehardt is besig om vir homself naam as musikant te maak deur gereeld by feeste, funksies en kroeë op te tree.
Sy eerste album Vry my in die donker, word binnekort vrygestel en die titelsnit se musiekvideo gaan in Randhart verfilm word.
“Ek is bietjie gespanne, maar terselfdertyd baie opgewonde. Ek het nog nooit só iets aangepak nie!”
Drehardt besef dat die Afrikaanse-musiekmark baie moeilik is om te betree, maar hoop om met sy Pop Rock met ‘n Country-inslag, die Afrikaanse mark te bekoor.
“Ek wil een van die beste kunstenaars wees wat luisteraars ’n nuwe vars klank gee om na te luister.”



