Schané is ‘n pragtige rolmodel
Schané Venter van Verwoerdpark wat een van die 24 finaliste is van Mejuffrou Suid Afrika, se passie, dryfkrag en opregte geaardheid sal haar 'n baie goeie rolmodel maak vir vele ander jong Suid Afrikaners.
ALBERTON- “Ek het op 15-jarige ouderdom besluit ek will aan die Mej Suid-Afrika skoonheidskompetisie deelneem,” sê Schané Venter, ‘n 23-jarige van Verwoerdpark.
Schané is op 29 September aangewys as een van 24 finaliste in die Mej Suid-Afrika kompetisie.
“Ons het vanaf 27 September tot gister, 8 Oktober, in die Maslow Hotel, in Sandton, gebly. Die dae was vreeslik besig en ons het baie werkswinkels bygewoon. Ek is nie dieselfde mens nie, ek is geïnspireerd en reg om my wêreld te verander. “
Die jong dame het lank en hard gedink oor haar doelwitte as sy sou wen. Sy het ook navorsing gedoen en haarself geestelik, emosioneel en fisies voorberei.
“Ek het al aan modelkompetisies deelgeneem, maar was nooit opgewonde om te wen nie; ek kan egter werklik ‘n verskil maak in mense se lewens as ek dié titel wen. ‘n Mens se omgewing van invloed is net soveel groter,” sê sy.
Die drie areas waarop Schané wil fokus is, eerstens, die jong vroue van Suid-Afrika.
”My motto is ‘be real not perfect.’ Ons hoef vir niemand terug te staan nie en ons moet leer om onsself te aanvaar net soos ons is. Ek is trots op ons reënboognasie en trots Afrikaans.”
“My ander passie is opvoedkunde. Dit is belangrik dat jongmense skool moet klaar maak. Dit is die fondasie vir ‘n goeie toekoms,” sê Schané wat Laerskool President Steyn en Hoërskool Marais Viljoen bygewoon het en ‘n BCom Bemarking by Noord-Wes Universiteit bekom het.
Schanê het ook baie respek vir entrepreneurs.
”Dis wonderlik as mense die passie en dryfkrag het om hulle eie ding te doen; ek wil mense aanspoor om hulle eie besighede te begin,“ vertel sy.
Een van Schané se rolmodelle is Roeline Strauss.
“Ek het haar in 2010 ontmoet en weer in 2014, na sy as Mej Wêreld gekroon is. Sy was nogsteeds dieselfde opregte, nederige vrou wat ek geken het. Die roem het nie na haar kop toe gegaan nie,” sê sy.
Schané se ander rolmodel is haar ouma: “Sy het ander mense onvoorwaardelik lief en is altyd gereed om wildvreemdes te help in tye van nood.”
Schané se liefde vir die lewe is aansteeklik en sy is ‘n doelgerigte jong vrou wat ‘n baie goeie rolmodel sal wees vir ander jongmense. Met haar opregte, eerlike en liefdevolle geaardheid sal sy baie mense se lewens kan aanraak.
Om vir Schané te stem, besoek gerus haar Facebook blad by Schané Venter, en ondersteun ons geesdriftige jong Alberton verteenwoordiger.
lees gerus: Miss SA finalist seen at Playing For Pink Polo



